Die Telegram

My ma het ‘n vriendin gehad wat dikwels by ons kom kuier het. Ek het haar net as tannie Steffens geken. Sy was al diep in haar vyftiger jare en was ‘n weduwee vir meer as twintig jaar.

Haar getroude lewe was ‘n groot raaisel. Sy het die eerste keer getrou toe sy agtien was. Sy was op twintig reeds ‘n weduwee. Sy het daarna weer getrou en was teen die ouderdom dertig reeds vierkeer weduwee. Haar mans is almal aan ongelukke oorlede. Een het van ‘n windpomp afgeval, ‘n ander het verdrink in die steengroef gate in Burgershoop en so met ongelukke het almal aan hulle einde gekom. Sy het toe besluit om nooit weer te trou nie want sy was ‘n ongeluksvoël vir mans.

My ma het haar vertel dat die eensaamheid op haar oudag haar baie gaan pla. In die Landbou weekblad was daar die Hoekie vir Eensames. Daar het sy toe weer ‘n vriend ontmoet. Hy was in Springs woonagtig en na ‘n paar maande is hulle toe daar getroud. So het ons toe kontak met haar verloor want Springs was met destydse vervoer baie ver van Krugersdorp. Sy daag toe eendag, so ses maande na haar troue, daar by ons op. My ma het toe sommer weer lekker met haar gesels. Soos maar gebruiklik praat hulle later ook oor die kerk. Toe tannie Steffens hier in Krugersdorp was, was sy saam met my ma baie aktief in die Sustersvereniging van die Gereformeerde kerk. Haar nuwe man was ‘n lid van die AGS in Springs. Toe my ma van die kerk begin praat, raak die tannie heeltemal ontsteld. Sy sê sy wil niks weet van ons gemeente en die predikant nie want hy het haar ‘n vreeslike lelike telegram met haar troue gestuur.

My ma vra wat het dan in die telegram gestaan? Sy grawe so in haar handsak en haal die verkreulde pienk telegramkoevert uit . Die telegram was nog van die waar repies papier so op die vorm geplak was. Die bewoording was kort en kragtig. “Veelsgeluk lees Joh 4 vers 18” My ma sê toe dat ek die Bybel moet gaan haal. My ma lees toe: “want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

Geskok sê my ma dat ek die dominee moet gaan bel om alles uit te klaar. Ons het toe nie ‘n foon in die huis gehad nie en ek moes na die ‘tiekie boks’ toe loop waar ek die dominee geskakel het. Hy was sommer gou gou daar by ons huis. Nadat hy aandagtig na die telegram gekyk het, begin hy lag. Hy sê dat daar êrens ‘n fout ingesluip het en dat dit moes gelees het 1 Johannes 4 vers 18 wat lees: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite.” Juis omdat sy so bang was om weer te trou het die predikant hierdie vers gekies. Met die oorsend van die telegram het die ‘1’ verlore gegaan.

Moet Nooit …

Moet Nooit…..

Ek loop op die lughawe Charles de Gaulle by Parys in Frankryk en dink aan die afgelope vyf wonderlike dae hier in Parys.

Nie net was die rugby en die gees op die paviljoene onbeskryflik nie – alles was ongelooflik. Ons is Wêreldkampioene!

Ek het die Eiffeltoring gesien, ek het die gees ervaar van Bok Town naby die Eiffeltoring, waar onder andere Sunette Bridges vir duisende mense in Afrikaans gesing het, ek het langs die Champs Elysees met sy wye sypaadjies geloop na die Arc de Triomphe, ek het die Notre Dame gesien, ek het die sypaadjiekafees geniet, ek het die Denkerstandbeeld in die Rodin Museum gesien, ek het die stampvol ondergrondse treine wat hulle Metro noem, beleef, ag en nog te veel om op te noem. Dit was soos ‘n droom. My eerste besoek aan die wêreldstad Parys!

Terwyl ek so loop in die groot sale van die lughawe, val my oog op ‘n bord wat lees Port “something”. My Frans laat veel te wense, maar die woord laat my dink aan my kinderjare toe ek ‘n portmanteau gehad het. Ek dink ‘n ander naam vir ‘n portmanteau is ‘n reisvalies.

Maar dit daar gelaat – die portmanteau was ‘n groot leertas waarin ek al my goed gebêre het met al my omswerwinge. Ná hoërskool, toe ek uit die huis gegaan het, het ek al my waardevolle besittings soos my bloemlesings, my skoolrapporte, my sertifikate van verdienste, my atletiekbekertjies, my medaljes en die eerste briefies wat ek van ‘n meisie gekry het, in die portmanteau gepak en in die stoorkamer gaan wegsteek.

My oorlede ma het ‘n parfuum met die naam “Evening in Paris” gebruik. Dit het in ‘n donkerblou botteltjie gekom en bo-oor die bottletjie was daar ‘n wit miniatuur Eiffeltoring so ses sentimeters hoog. Ek het twee van die torinkies ook in my portmanteau gebêre.

Ek het altyd vir my ma gesê dat ek nog eendag na die Eiffeltoring wil gaan. My ma het altyd gesê: “Dit is baie ver, dit kos baie geld, vergeet dit.” Nou loop ek hier in Parys se lughawe na die vliegtuig wat my terug na Suid-Afrika sal neem en ek het aan die Eiffeltoring geraak!

Nou wat is die moral of the story? Moet nooit vir iemand sê dat sy droom iets is wat onmoontlik is nie. Ek is nou 77 jaar oud.

Die artikel het die 9de November 2007 In Die Pos, Warmbad se koerantjie, verskyn op bl 10. J H V

Jessica

Just one look in your beautiful eyes,

Even with dirt on your face,

States that you are an angel from the skies.

Sincere and without a bad trace,

Innocent love that only you can bring.

Cute as flowers in the Spring,

All these things are you and it makes our heart sing.

Johan

Jy is nog altyd ons steunpilaar.

Ons weet jy is nog altyd daar

Hoe ons jou ook al nodig mag ag.

Alles doen jy altyd met ‘n glimlag.

Nou sê ons almal : lekker verjaar!

Herinneringe

Hoe dikwels word daar gesê,

En dan word die Bybel aangehaal:

Rig jou net op die toekoms wat voorlê.

In jou verlede was jy opgesaal

Net met kruise wat jy moet agterlaat.

Nogtans brand dit in my hart

En trane wel in my oë.

Regtig herleef ek weer die smart

Innig soos in baie dae vervloë.

Nou kan ek my net op die HERE verlaat.

Geloof, hoop en liefde is al wat oorbly.

Ek vertrou mooi herinneringe sal net drome bly.

jhv

GRAPPIES

Alle vroumense is blond: die rooikop is ‘n aan die brand blond en ‘n swartkop is ‘n uitgebrande blond.

‘n Swartkop, ‘n rooikop en ‘n blond is ‘n geruime tyd gestrand op ‘n eiland. Eendag, terwyl hulle op die strand loop, tel hulle ‘n ou lampie op en nadat hulle hom gevryf het, kom ‘n genie tevoorskyn. Hy noem toe dat hy net drie wense kan vervul – elkeen kry net een wens. Die swartkop wens sy is terug by haar familie en woeps! weg is sy. Die rooikop wens dieselfde wens en woeps! weg is sy. Die blondine begin bitterlik te huil en wens dat haar vriendinne is weer by haar.

Die buikspreker sit op die verhoog en sy poppie op sy skoot vertel net dom blond grappies. Na ’n rukkie staan ‘n bejaarde blonde dame in die gehoor op en praat: “Kyk ek is nou moeg vir hierdie dom blond grappies . Ek het ‘n doktors graad en ek is ‘n lektor by die universiteit.” Buikspreker: “Jammer dame ….” Dame: “Bly jy stil, ek praat met daardie snotkop op jou skoot

Elriëtte

Elegansie van ‘n dolfyn

Lieftallig, fyn en klein

Roserooi lippies mooi en sag

Innig, opreg wat net jy kan vermag

Eteriese donkerblou oë

Tenger en ingetoë

Teerheid van Bo gegee

En dit is E H V.

Rooi Jam

Dis ‘n vakansiedag en ek besluit om die leë koskas aan te vul.  In die supermark sien ek hoe ‘n tannie sukkel om ‘n blikkie van die die rak af te haal.

Meteens val daar ‘n halwe honderd blikkies kletterend rondom die tannie.  Sy staan daar hande in die lug soos iemand wat hensop.

Ek storm nader om te red wat te redde is, maar trap op ‘n rollende blikkie en val amper die tannie uit die aarde uit.

Ek ruik net 4711 olie kolonie toe ek die tannie tref.  Terwyl ek probeer om van die rollende blikkies op te tel, kom die vloerbestuurder daar aan want die lawaai van die vallende blikkies het hom nader geroep en hy begin my uit te trap waar ek daar staan met blikkies in my hande.

Hy noem dit dat hulle weens die vankansiedag “kort van staf” is en dat ek moet help opruim.

Toe ek uiteidelik buite die winkel kom, kom die ou tannie by my verby en sit ‘n blikkie rooi jam in my supermark trollie en sy sê “Dankie!”

KUNS

Kuns is `n talent God-gegewe
Wat jou na `n hoër estetiese vlak laat swewe
Jy kan dié talent gebruik of onderdruk
Tot jou siel se voordeel of ongeluk.

Hoe beskryf jy kuns, wat leef in jou innerlike mens?
Is dit jou begeertes, jou liefde, jou diepste wens?
Het ek tog die kennis, die insig, die wysheid;
Miskien sal ek dit kan beskryf op my oudag in my grysheid.

Die kuns is onsigbaar, ontasbaar, tog draai die wêreld daarom.
Daar is duisende liedjies wat sing van die muse – waarom?
Dit is jou diepste gevoelens wat uitborrel, wat oorkook
En dan in dwalende melodië by jou kom spook.

Dit is maar een faset van die kuns wat `n mens kan bekoor,
Maar as jy op my ‘tone trap’, onthou ek het ook gevoelens, hoor!

Monica

Mense hou van jou want jy is gaaf.

0ulik, maar tog so braaf.

Niks beter as om op jou geloof te bou.

Iemand wat ‘n mens kan vertrou.

Cute, maar met ‘n wil van staal.

Alles in een pakket saam gemaal.

Klasie Vaak

Klasie Vaak ons vra vir jou

Neem vir Jessie saam met jou

Neem vir haar na Droomland toe

Want haar ogies val al toe.

 

Jy sal nou jou sandjies bring

Jy is mos ‘n skelme ding

Want die mense van jou soort

Kan mos kom uit enige oord.

 

Daar kom Klasie om die hoek

Hy kom seker Jessie soek

Jy sal nou moet gou gou maak

Want sy is al baie vaak

MEMORIES EN MAMPOER

Nou die môre word ek wakker en oor die radio kom daar die mooi klanke van Memories uit die blyspel Cats.  Vir die van ons wat nog nie Cats gesien het nie: dit is die storie van `n klomp katte wat op `n ashoop bly.  Daar is die ramkat wat hom wat verbeel en die ouer kat wat alles wil regeer.  Naby die einde van die blyspel kom daar so `n ou verflenterde grys wyfiekat op en sy dink toe terug aan die dae toe sy nog jonk en mooi was.  Sy sing toe Memories en net daarna word sy weggevoer na die kattehemel.  Ek sê toe vir my beste dat as `n mens so oud soos ek geword het moet `n mens maar vashou aan jou herinneringe want die toekoms is soos `n muur hier voor jou. Continue reading “MEMORIES EN MAMPOER”

DIT IS NIE DIE JODE …

Dit is nie die Jode wat U vervolg het nie ……..

Dit is nie Judas wat U verraai het nie …….

Dit is nie Petrus wat U verloën het nie ……

Dit is nie Pilatus wat die doodstraf oor U uitgespreek het nie …….

Dit is nie die soldate wat U aan die kruis gespyker het nie ook nie hulle wat U met spiese gesteek het nie …….

Dit is ek, ek nietige sondaarmens, wat dit alles aan U gedoen het sodat ek kan lewe!

Ek dank U dat U die Via Dolorosa geloop het sodat ek nie die lydensweg hoef te bewandel nie.

Ek dank U dat U vir my menigvuldige sondes gesterf het sodat ek in Christus Jesus kan leef.

Ek dank U dat U van God verlate was sodat ek nooit Godverlatenheid hoef te ervaar nie.

Ek, klein stofdeeltjie in U groot heelal, ek dank U vir U oneindige liefde en U groot barmhartigheid.

Liefde

 

As ek ‘n vors was met grote mag

Sou ek jou oorlaai met pêrels en smarag!

Luukse juwele, prag en praal,

Ewiglik sou dit jou omstraal.

 

Was ek ‘n koning van ‘n land

Sou ons regeer het, hand aan hand.

Al my eer sou jy ook kon deel.

Ons sou alle vredes met liefde beseël.

 

Was ek ‘n rykman met baie geld,

Sou jy nie meer goud as edel meld.

Oniks, saffiere, diamante en robyne

Sou jou dek op jou kleed van sy en satyne.

 

Was ek ‘n skilder met verf en penseel

Sou ek jou skilder in sy en fluweel.

Daarmee sou ek die grootste eer behaal

As die beste skilder wat nimmer faal.

 

Was ek ‘n sanger sou ek sing:

Ek sou die wêreld ‘n nuwe liedjie bring;

Ek sou sing van jou skoonheid ongeskonde,

En van jou haartjies, golwend, ongebonde.

 

As krygsman sou ek Napoleon se werk doen.

Net om jou eenmaal te kon soen.

Vir jou sou ek ‘n duisend Waterloo’s stry.

Ek sou besete veg en geen neerlae ly.

 

Maar ek is ‘n arme ellendeling

Met net my liefde as besitting.

Knielend voor jou bied ek my hart getrou,

Wat jy kan breek of wat jy kan hou.

Via Dolorosa

(Lydingsweg)

Totius het in sy gedig Waar is ‘n lot…  die lyding wat hy ondergaan het toe sy dogter deur die weerlig getref was en sy dood in sy arms geval het beskryf.  Hy beskryf hoe hy ‘n vrou ontmoet het wat haar man moes begrawe en dat sy self haar man se doodskis moes toespyker.  Dan noem hy dit dat haar lyding erger as syne was, maar sy wys hom op Jesus se kruisiging en sê dat sy nooit soos Hy, van God verlate was nie.  Dan sê Totius dat Jesus se lot die swaarste was.

Kom ons kyk na die lyding van mense.  Is dit die lot van die mens om te ly? Moet daar altyd pyn en lyding wees?  Wat sê God se Woord oor lyding?

Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Genesis 3 vers 16.

…. is deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak. Genesis 3 vers 17b

Lyding put jou kragte uit, dit mag jou dalk finansieël knak.

Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Markus 5 vers 25.

Hoeveel jare moes die Israeliete soos nomade in die woestyn rondswerf voordat hulle die beloofde land van melk en heuning kon binnegaan?  En vir arme Moses was dit nie eens gegun gewees om die land binne te gaan nie.

Ag, hoe skud my hart en bewe;

Uitgelewe is my krag, en opgeteer.

Oë gans en al ontluister,

Skemerduister, sien geen daglig amper meer. Psalm 38 vers 9.

Dink so daaraan: vir eeue lê die fyn goudstof in ‘n rots opgesluit.  Dan word daardie rots gedelf, word stukkend gebreek en tot ‘n fyn poeier gemaal.  Dan word dit aan die allerverskriklikste giftige sure blootgestel en daarna word dit teen ‘n geweldige hoë temperatuur gesmelt.  Eers dan kan jy die gelouterde goud sien, maar dit is nog nie alles verby nie.  Die ruwe goud word dan aan die vlam van die goudsmit blootgestel voordat dit as die pragtige edel metaal juweelstukke geniet en bewonder kan word.  Vergelyk dit met jou lewe.

Tog sal die Almagtige God ‘n mens nie bo sy vermoë beproef nie.

Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou.  1 Petrus 3 vers 13b.

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.  1 Petrus 5 vers 10.

Maar die Heer sal in my lewe weer oordag sy guns gebied.  Ook deur donker nag omgewe, sing ek nog my pelgrimslied.  Ja, ek lofsing in die nag, want ek bly die Heer verwag; my gebed sal opwaarts strewe na die bronwel van my lewe. Psalm 42 vers 5.

Wat is nou ons grootste troos as ons hier in ons tydelike tentwoning so moet ly?

Ek is oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Romeine 8 vers 18.

DIE REUS

 

Daar was eendag ‘n vreeslike groot reus

En hy het ‘n groot boggel op sy neus.

Nou as hy ooit moes nies

Maak hy sommer die hele wêreld vies,

Want dit is soos ‘n groot aardbewing

Waar almal veg vir hul oorlewing.

 

Op ‘n dag nies hy toe so luid

Dat die noorde verander na suid.

Almal wat wil huistoe gaan

Verdwaal en gaan na die maan.

Die wêreld was toe leeg

Behalwe die reus met sy neus vol deeg.

 

Deeg? Waar kom dit vandaan?

Kom laat ons die petalje gadeslaan.

Die nies was toe so ontsettend,

Dit was al die tyd so verpletterend

Dat dit al die land se koring en meel

In deeg verander, kan jy jou verbeel.

 

Die reus was toe eensaam en alleen

En hy het sy nagte toe omgeween.

Hy besluit toe om na die maan te spring

En om al die mense terug aarde toe te bring.

Hy beloof toe ook so opreg:

“Nooit nies ek weer so sleg.”

Die Eienaardige Voorval

Baie jare gelede in 1950 het ek, pas uit matriek, in die magistraatskantoor in Krugersdorp gewerk. Destyds was die magistraat nog nie bekend as ‘n landdros nie. Ek het ‘n beurs gehad om te gaan swot as onderwyser, maar ek het gladnie belanggestel om ‘n onderwyser te word nie. Met Latyn as my beste vak op skool wou ek myself in die regte bekwaam, maar daarvan het toe ook net mooi niks geword nie. Maar dis ‘n ander storie.

My eerste werk in die magistraatskantoor was in die Geboorte, Huwelike en Sterfgevalle-afdeling, of soos ons dit destyds genoem het – hatch, match en dispatch.

Een Saterdagoggend, die magistraatskantore was toe nog op Saterdae oop tot half een toe, kom daar ‘n paartjie in, baie verlief met blink oë en sê dat hulle met spesiale lisensie wou trou. Hulle het die hele tyd net vir mekaar gekyk. Toe kon jy nog trou sonder om vooraf ‘n afspraak te maak. Ek kan onthou dit was vroeg in die lente en die Saterdag se sluitingstyd het nader gekruip.

Ek vertel toe die paartjie dat ek eers by die assistant magistraat, mnr Le Roux, moes uitklaar of hy nog die huwelik so naby aan huistoegaantyd sou kon voltrek. Groot asseblief smeek die man aan die anderkant van my lessenaar. Ek gaan praat toe mooi met die magistraat en hy sê dat ek die vorms solank moes voltooi. Terug in my kantoor begin ek toe haastig die nodige vorms invul en soos my gewoonte was, vra ek al die vrae vir die man. Toe ek hom vra wat is sy aanstaande se volle name, vra hy haar: “Wat is jou naam?” Sy antwoord en ek kan onthou dat haar eerste naam ‘n mansnaam soos Johannes of Jacobus was.

Mnr Le Roux kom toe haastig in en hy voltrek die huwelik baie vinnig. Na die verrigtinge vra die man dat ek hulle huweliksertifikaat vir hulle moes gee. Ek antwoord toe dat dit onmoontlik sal wees want mnr Le Roux moes die sertifikaat onderteken en hy was toe reeds oppad huistoe. Ek sê toe dat ek Maandagoggend eerste ding hulle sertifikaat sal uitskryf en vir mnr Le Roux neem om dit te onderteken. Baie teleurgesteld is hulle toe daar weg.

Daardie tyd, as jy in die Staatsdiens gewerk het en die tyd breek aan dat jy moet ophou werk, het jy werklik ophou werk. As jy nog in die middel van ‘n woord is besig om te skryf, hou jy net dadelik op met skryf, sit jou pen neer en gaan huistoe.

Die hele naweek het die episode my gepla. Hoekom het hulle so laat daar aangekom? Waar was hulle vriende en familie? Hulle was ook te voet, maar dit was nie baie snaaks nie want min jong mense het destyds motors besit. Nogtans het ek baie oor die paartjie gedink.

Maandagoggend nog voor agt toe ek kantoor toe gaan, sien ek die paartjie daar voor die hofgebou staan en rondtrippel. Skaars is ek in my kantoor of hulle sit oorkant my wagtende vir hulle trousertifikaat. Toe vertel hulle my hulle storie.

Die Saterdagoggend haal hulle albei die trein van Pretoria na Johannesburg. Soos dit beskik was, sit hulle toe as totale vreemdelinge regoor mekaar in die trein na Parkstasie waar hulle moes oorklim om ‘n trein te haal na Krugersdorp toe. En so sit hulle sonder om ‘n enkele woord te praat tot in Johannesburg. Soos die geluk dit wou hê, klim hulle toe in dieselfde trein na Krugersdorp en so wraggies sit hulle toe weer regoor mekaar. Hy begin toe voetjie-voetjie met haar speel en vanaf Florida begin hulle toe met mekaar te gesels. Hulle het nie eens geweet dat hulle albei oppad Krugersdorp-Wes toe was nie. Vanaf Krugersdorp stasie moes hulle ‘n hele ent stap na die bushalte waar hulle ‘n bus sou kon haal na Krugersdorp-Wes. Die bushalte was destyds voor die hofgebou net oorkant die stadsaal. En so met die loop en gesels word hulle toe sommer groot vriende. Soos hulle dit gestel het – hulle ontdek dat hulle sielsgenote is.

Toe hulle by die magistraatskantoor verby loop, sê hy vir haar: “Kom ons gaan hier in dan trou ons.” Sy sê toe dadelik ja en so het die storie toe begin. Hulle was albei vrygeselle van vyf en twintig jaar. Hulle was albei nou nie so mooi soos filmsterre nie, maar hulle het sterre in die oë gehad.

Na hulle huweliksbevestiging is hulle na die Palace Tearoom oorkant die straat waar hulle elkeen een van daai rooi klapperkoeke bestel het saam met ‘n melkskommel. Hulle ontdek toe dat hulle dieselfde voorliefde vir dié rooikoeke en melkskommels het.

Nadat hulle hul trousertifikaat gekry het, is hulle al dansende daar uit my kantoor uit. Hulle het my nooit vertel wat hulle vir hulle verskillende mense daar in Krugersdorp-Wes verduidelik het nie. Toe ek die verhaal aan mnr Le Roux vertel, sê hy dat hy dit snaaks gevind het dat die paartjie so wou trou. Hy sê hy dog dit was ‘n geval van ‘n “rush tussen hom en die stork” wat toe gladnie die geval was nie.

Die eienaardige voorval het lank by my gespook. Toe so vier jaar later het ek gehelp met die sensusopname. En daar kom ek op ‘n huisgesin af wat vir my baie bekend voorkom. Te skaam om sommer reguit vir hulle te vra of hulle die paartjie was wat so vinnig besluit het om te trou, probeer ek toe uitvis. Gelukkig vra die man toe vir my of ek hulle kan onthou. Ek sê toe dat hulle vir my bekend voorgekom het. Hulle vertel my toe hoe uiters gelukkig hulle is en dat hulle al twee kindertjies het. Hulle dring toe daarop aan dat ek eers by hulle moes koffie drink.

Die vrou verdwyn toe kombuistoe en toe sy terugkom met die skinkbord en die koffie, is daar net een koppie koffie en ‘n groot beker vol koffie. Toe sy die skinkbord my aanbied, neem ek toe die koppie. Sy gaan sit toe so dwars op haar man se skoot en daar drink hulle toe uit dieselfde beker. Eers vat sy ‘n slukkie en dan vat hy ‘n slukkie. Hulle sê toe dat hulle albei van sterk soet koffie hou en aangesien die Here hulle een gemaak het, drink hulle so saam uit een beker.

Hy vertel my dat hulle eintlik hulle heil oorsee wou gaan soek. Waar oorsee het hy nooit gesê nie. Ongelukkig het ek hulle name vergeet, maar as hulle nog in die land van die lewendes hier is RSA is, moet hulle van hulle laat hoor.