Soos die gebruik daar, was die tweede erediens 45 minute na die oggend erediens instede van ‘n aanddiens. Dit het die boere beter gepas en dan was daar ook meer lidmate as met ‘n aanddiens.
So gebeur dit dat ds Piet du Plessis, emeritus, gevra word om Nagmaal te kom bedien in ons predikant se afwesigheid. Ds du Plessis het ‘n besondere mooi sterk stem en hy het nooit van die luidspreker stelsel gebruik gemaak nie. Hy het die bynaam, Piet Veertiendae, gehad want soos dit daar gebruiklik was, het die broeders gestaan met die lang gebed voor die preek en hy het jou voete moeg gebid. Toe hy Nagmaal bedien, het hy die Nagmaal Formalier met die sitting van elke tafel herhaal. Die erediens was toe tot twaalf uur waar ons gewoond was om half elf klaar te maak , met die gevolg dat met die dankseggingsdiens daar weinig lidmate was.
Eenkeer toe die orreliste ongesteld was, moes daar vinnig iemand gesoek word om die orrel te bespeel. ‘n Musiek onderwyser, wat die orrel kon bespeel, word toe gevra. Na die erediens vra die kerkraad dat sy nie weer genooi moet word nie want sy speel die Psalms met ‘n huppel.
‘n Bekende panfluit speler het eenkeer voor die erediens ‘n uitvoering gelewer. Van die stoere Doppers het toe beswaar gemaak. Toe sê die predikant dat ‘n panfluit eintlik net ‘n bonsai orrel is.
Die predikant, ds Nel vra my om saam met hom te gaan om nuwe intrekkers welkom te heet. Daar gekom het ons lekker gesels toe merk ek dat dominee my woordeloos iets wou vra. Ek kon hom nie verstaan nie. Agterna het hy gesê dat die mense se van hom ontgaan het. Hy haal toe sy sakboekie uit en vra: “Broeder, hoe spel jy jou van?” “Met een L, dominee”, was die antwoord. “Nee, hoe spel jy jou hele van?” Toe antwoord hy “ N E L “.
