Elmarié
Eintlik moes ek ‘n geskenk bring.
Laat ek maar vir jou ‘n liedjie sing.
Mag jy vandag lekker verjaar.
Al die geluk wat jy kan vergaar.
Regeer jou mooi lewe nou.
In alles wat jy die jaar wil bou.
Erken net dat jy op Hom kan vertrou.
Elmarié
Eintlik moes ek ‘n geskenk bring.
Laat ek maar vir jou ‘n liedjie sing.
Mag jy vandag lekker verjaar.
Al die geluk wat jy kan vergaar.
Regeer jou mooi lewe nou.
In alles wat jy die jaar wil bou.
Erken net dat jy op Hom kan vertrou.
Ek sê baie dankie my vrind
Lieflike herinneringe sien ek in die boek
Sê my waar het jy dit toe gevind.
Al het ek meer as 60 jaar daana gesoek.
Jy moet lekker verjaar
Ons bid joe seën toe vir die nuwe jaar
Hoop en vertrou net die toekoms op die Heer
Alles kom daarop neer
Net die Herre sal jou lewe regeer.
Jy kom met ver draaie na ons
En klein soos jy is, laat jy harte bons.
Sefs die dikvelligste mens
Sou graag ook sy diepste wens
In jou wese so volmaak wou sien.
Cute like blossoms in the spring …
Ag jy is sommer tien uit tien !!!
Reik jy nou na ‘n ster
En smag jy na ‘n land so ver?
Tel eers jou seëninge hier
Reik liewer na die ewige lewe
En na jou tuiste hiernamaals.
Al was jy meer geseënd in die verlede,
Tog dra God se voorsienigheid jou in die hede.
Alle vroumense is blond: die rooikop is ‘n aan die brand blond en ‘n swartkop is ‘n uitgebrande blond.
‘n Swartkop, ‘n rooikop en ‘n blond is ‘n geruime tyd gestrand op ‘n eiland. Eendag, terwyl hulle op die strand loop, tel hulle ‘n ou lampie op en nadat hulle hom gevryf het, kom ‘n genie tevoorskyn. Hy noem toe dat hy net drie wense kan vervul – elkeen kry net een wens. Die swartkop wens sy is terug by haar familie en woeps! weg is sy. Die rooikop wens dieselfde wens en woeps! weg is sy. Die blondine begin bitterlik te huil en wens dat haar vriendinne is weer by haar.
Die buikspreker sit op die verhoog en sy poppie op sy skoot vertel net dom blond grappies. Na ’n rukkie staan ‘n bejaarde blonde dame in die gehoor op en praat: “Kyk ek is nou moeg vir hierdie dom blond grappies . Ek het ‘n doktors graad en ek is ‘n lektor by die universiteit.” Buikspreker: “Jammer dame ….” Dame: “Bly jy stil, ek praat met daardie snotkop op jou skoot
VERGEET
(‘n Toneelstuk in een bedryf opgevoer in die Gereformeerde Kerksaal gedurende die jaareind funksie circa 2000)
As die gordyne oopskuif, sit Jan by ‘n gedekte tafel geklee in ‘n baadjie, hemp en das. Aan die voorkant van die tafel aan die gehoor se kant, hang die tafeldoek tot op die grond. Op die tafel staan sy briewetas.
Jan: As ek so na die gehoor kyk, lyk dit vir my of die Doppers vergeet het om konsert toe te kom…..
Lees koerant
Hier staan dit….Die helfte van Huilboslaan is in die donkerte gehul omdat die meeste mense vergeet het om hulle water en ligte rekenings te betaal….
‘n Boer het vergeet om sy hek toe te maak en sy vee het verlede nag groot verwarring veroorsaak op die R101. Arme beeste, hulle ook maar seker net op die teerpad gaan wei het…..
Klippie, ou vrou, hoe lyk dit? Kry ek nie ontbyt vanmôre nie? Klippie, het jy vergeet dat ek vandag werk toe gaan? Toe kom nou, Klippie.
Klippie kom op met ‘n skinkbord. Sit die skinkbord op die tafel neer en loop af.
Jan: Klippie, jy het die suiker vergeet.
Klippie bring die suikerpot en gaan af.
Jan: Die mensdom vandag…..almal vergeet net en dan sê hulle net…..jammer ek het vergeet. Die burgemeester vergeet om by die skou op te daag en moes toe herinner word. Wat ‘n geskarrel het dit net nie afgegee nie.
Eet intussen.
Dertig persent van die bevolking vergeet om hulle inkomstebelasingvorms in te handig. Kyk net hoe hardloop die manne rond as die vulliswa verby kom, almal vergeet mos altyd om die swart sakke uit te sit.
Dit is darem vreeslik soos dit deesdae aangaan….. almal vergeet net.
Vat nou maar vir dominee, hy noem sy oudste seun Hanou, maar as mens na sy spannetjie mooi dogters kyk, is dit duidelik dat hy vergeet het wat die woord Hanou beteken.
Lank gelede toe ek nog op skool was……
Klippie, het jy vergeet om my lunch te bring? Jy weet mos dat ek werk toe moet gaan of het jy net vergeet?
Klippie bring ‘n pakkie en gaan af.
Dit lyk meer na toebroodjies as na lunch. Ek hoop net sy het nie vergeet dat ek net botter eet nie.
O dit is darem goed dat daar nog mense soos ek is wat kan onthou. Wat sou gebeur as almal net vergeetagtig is. Die wêreld sou net ophou bestaan as dit nie was vir mense soos ek nie.
Klippie, kom jy my nie totsiens sê nie?
Klippie kom op, soen Jan en staan met hande in die sye en kyk as Jan sy briewetas neem en, netjies geklee in sy pak as hy afstap sonder sy broek.
Applous
Soos die gebruik daar, was die tweede erediens 45 minute na die oggend erediens instede van ‘n aanddiens. Dit het die boere beter gepas en dan was daar ook meer lidmate as met ‘n aanddiens.
So gebeur dit dat ds Piet du Plessis, emeritus, gevra word om Nagmaal te kom bedien in ons predikant se afwesigheid. Ds du Plessis het ‘n besondere mooi sterk stem en hy het nooit van die luidspreker stelsel gebruik gemaak nie. Hy het die bynaam, Piet Veertiendae, gehad want soos dit daar gebruiklik was, het die broeders gestaan met die lang gebed voor die preek en hy het jou voete moeg gebid. Toe hy Nagmaal bedien, het hy die Nagmaal Formalier met die sitting van elke tafel herhaal. Die erediens was toe tot twaalf uur waar ons gewoond was om half elf klaar te maak , met die gevolg dat met die dankseggingsdiens daar weinig lidmate was.
Eenkeer toe die orreliste ongesteld was, moes daar vinnig iemand gesoek word om die orrel te bespeel. ‘n Musiek onderwyser, wat die orrel kon bespeel, word toe gevra. Na die erediens vra die kerkraad dat sy nie weer genooi moet word nie want sy speel die Psalms met ‘n huppel.
‘n Bekende panfluit speler het eenkeer voor die erediens ‘n uitvoering gelewer. Van die stoere Doppers het toe beswaar gemaak. Toe sê die predikant dat ‘n panfluit eintlik net ‘n bonsai orrel is.
Die predikant, ds Nel vra my om saam met hom te gaan om nuwe intrekkers welkom te heet. Daar gekom het ons lekker gesels toe merk ek dat dominee my woordeloos iets wou vra. Ek kon hom nie verstaan nie. Agterna het hy gesê dat die mense se van hom ontgaan het. Hy haal toe sy sakboekie uit en vra: “Broeder, hoe spel jy jou van?” “Met een L, dominee”, was die antwoord. “Nee, hoe spel jy jou hele van?” Toe antwoord hy “ N E L “.
Toe Anne sien dat haar tyd om babas te kry, besig is om uit te loop, was haar grootste begeerte om nog ‘n kind te hê. Onthou, sy was een van nege kinders en net ‘n enkele een was vir haar nie reg nie. Ons het toe hard probeer en sy het swanger geword, maar op ses weke het sy ‘n miskraam gehad. Ons het destyds in 4 G.M.T.S. in Maraisburg gebly.
Ons het toe ‘n bekende dokter, dr Gerhard Mes in Krugersdorp, gaan spreek. Hy het toe ‘n hele lange lys gegee van wat om te doen, wat om te eet en wat om aan te trek; selfs die soort onderklere wat ek moes dra. Die sekere tyd van die maand en die temperatuur moes presies gewees het. Ons het streng by al die reëls gehou.
Een Donderdag in Augustus, ek dink dit was die sesde, het sy my elfuur die oggend by die werk gebel en gesê dat alles nou reg is en dat ek moes gou maak. Ek het toe van die werk af weggeloop sonder om te sê waarheen ek gaan. Wat sou ek in elk geval kon gesê het?
Ons het toe alles mooi beplan en vir die volgende nege maande baie versigtig gewees. Dit was vir haar ‘n groot voorreg om swanger te wees.
Hier van die sewende maand het my stiefpa weekliks na ons toe gekom en by Anne gepleit dat die kind na hom vernoem moes word. Sy het gesê dat sy nooit haar kind my stiefpa se name, Nicolaas Frans Johannes, sou toewens nie. Ons het baie gesprekke gehad oor die baba se name. Iemand het voorgestel dat hy na die Holder familie genoem moet word, naamlik Edmund William. Johan het gevoel dat Edmund William goed pas by Holder, maar glad nie pas by Venter nie. Daar was ook reeds oor as genoeg Eddies in die familie. Johan het voorgestel dat ons nie Nicolaas moet gebruik nie, want baie van hulle word Nieklaas genoem wat nie goed klink in Afrikaans nie. Hy het voorgestel dat ons dit moet versag na Nico Francois. My Stiefpa het weekliks kom soebat, want daar is niemand ooit wat na hom genoem kon word nie. Naderhand het Anne ingestem om die baba Nico Francois te noem op voorwaarde dat hy nooit Nick genoem mag word nie, want dis Nick the Greek.
Na die veertigste week van swangerskap het die dokter voorgestel dat sy na die hospitaal toe moet gaan daar in Krugersdorp sodat hulle induksie kon doen. Hy het nog die opmerking gemaak dat die stouterd so lekker bly in sy nessie dat hy nie wou uitkom nie.
Die vroeë aand van 4 Mei 1969 is ons toe oppad hospitaal toe waar die induksie die volgende oggend sou plaasvind. Toe ek in die pad kom, tref ek ‘n slaggat en Anne skree Eina! Ek stop toe maar sy sê nee alles is reg. Ek het haar so tussen sewe en halfagt die aand by die hospitaal nag gesê en het belowe dat en die volgende oggend daar sal wees voor haar induksie.
Ek is toe na Eddie en Lenie toe wat daar in Krugersdorp gebly het om vir hulle die nuus te vertel. Terwyl ek daar was, het ons die goeie nuus gehoor dat sy normaalweg geboorte geskenk het. Dit was ‘n wonderwerk!
Die ouderdom verskil tussen ons twee kinders is veertien en ‘n half jaar wat amper ongelooflik is.
Ek het maar vir almal gesê dat ons intussen die resep verloor het.
My ma was ‘n aktiewe lid van die kerk se Sustersvereniging. Een keer toe dit haar en haar vriendin, tannie Steffens, se beurt was om verversings vir die vergadering te maak, het my ma twee koeke gebak. As ons met die bus gery het tot by Krugersdorp se stadsaal, was dit nog ‘n hele ent na die kerk toe. Die Gereformeerde Kerk was net onder die Monumentdam geleë. My ma vra toe vir my of ek sal help met die koek wat toe in twee koekblikke was.
By die kerk aangekom, was daar reeds tussen twintig en dertig dames. Die predikant, ds Willie Venter, het die vergadering geopen en toe my genooi om saam met hom in sy studeerkamer te gaan sit totdat die vergadering verby is. Na die vergadering het ek en die dominee weer na die susters gegaan waar die tee en koek bedien sou word.
Tannie Steffens het soetkoekies gebak, maar ongelukkig toe te veel suiker gebruik wat die koekies toe klinkers gemaak het.
My ma het altyd gesê dat as jy goeie maniere wil leer, moet jy net na ds Willie kyk. Hy het mooi verfynde maniere. Nou ek drink mos nie tee nie, nou sit ek net vir die dominee en dophou. Hy het een van tannie Steffens se klinkers geneem en die puntjie toe so in sy tee probeer week. Dan kou kou hy weer so versigtig aan die kant van die harde koekie.
Eenkeer toe hy weer die koekie probeer week, tik hy die koekie so teen die kant van sy koppie en per ongeluk slaan hy toe ‘n hap uit Mevrou se fyn porselein koppie.
Soveel vir die leer van goeie maniere.
Ek loop op die lughawe Charles de Gaulle by Parys in Frankryk en dink aan die afgelope vyf wonderlike dae hier in Parys.
Nie net was die rugby en die gees op die paviljoene onbeskryflik nie – alles was ongelooflik. Ons is wêreldlampioene!
Ek het die Eiffeltoring gesien, ek het die gees ervaar van Bok Town naby die Eiffeltoring, waar onder andere Sunette Bridges vir duisende mense in Afrikaans gesing het, ek het langs die Champs Elysees met sy wye sypaadjies geloop na die Arc de Triomphe, ek het die Notre Dame gesien, ek het die sypaadjiekafees geniet, ek het die Denkerstandbeeld in die Rodin Museum gesien, ek het die stampvol ondergrondse treine wat hulle Metro noem, beleef, ag en nog te veel om op te noem. Dit was soos ‘n droom. My eerste besoek aan die wêreldstad Parys!
Terwyl ek so loop in die groot sale van die lughawe, val my oog op ‘n bord wat lees Port “something”. My Frans laat veel te wense, maar die woord laat my dink aan my kinderjare toe ek ‘n portmanteau gehad het. Ek dink ‘n ander naam vir ‘n portmanteau is ‘n reisvalies.
Maar dit daar gelaat – die portmanteau was ‘n groot leertas waarin ek al my goed gebêre het met al my omswerwinge. Ná hoërskool, toe ek uit die huis gegaan het, het ek al my waardevolle besittings soos my bloemlesings, my skoolrapporte, my sertifikate van verdienste, my atletiekbekertjies, my medaljes en die eerste briefies wat ek van ‘n meisie gekry het, in die portmanteau gepak en in die stoorkamer gaan wegsteek.
My oorlede ma het ‘n parfuum met die naam “Evening in Paris” gebruik. Dit het in ‘n donkerblou botteltjie gekom en bo-oor die bottletjie was daar ‘n wit miniatuur Eiffeltoring so ses sentimeters hoog. Ek het twee van die torinkies ook in my portmanteau gebêre.
Ek het altyd vir my ma gesê dat ek nog eendag na die Eiffeltoring wil gaan. My ma het altyd gesê: “Dit is baie ver, dit kos baie geld, vergeet dit.” Nou loop ek hier in Parys se lughawe na die vliegtuig wat my terug na Suid-Afrika sal neem en ek het aan die Eiffeltoring geraak!
Nou wat is die moral of the story? Moet nooit vir iemand sê dat sy droom iets is wat onmoontlik is nie. Ek is nou 77 jaar oud.
Die artikel van Jan Venter het die 9de November 2007 In Die Pos, Warmbad se koerantjie, verskyn op bl 10. J H V
My ma het ‘n vriendin gehad wat dikwels by ons kom kuier het. Ek het haar net as tannie Steffens geken. Sy was al diep in haar vyftiger jare en was ‘n weduwee vir meer as twintig jaar.
Haar getroude lewe was ‘n groot raaisel. Sy het die eerste keer getrou toe sy agtien was. Sy was op twintig reeds ‘n weduwee. Sy het daarna weer getrou en was teen die ouderdom dertig reeds vierkeer weduwee. Haar mans is almal aan ongelukke oorlede. Een het van ‘n windpomp afgeval, ‘n ander het verdrink in die steengroef gate in Burgershoop en so met ongelukke het almal aan hulle einde gekom. Sy het toe besluit om nooit weer te trou nie want sy was ‘n ongeluksvoël vir mans.
My ma het haar vertel dat die eensaamheid op haar oudag haar baie gaan pla. In die Landbou weekblad was daar die Hoekie vir Eensames. Daar het sy toe weer ‘n vriend ontmoet. Hy was in Springs woonagtig en na ‘n paar maande is hulle toe daar getroud. So het ons toe kontak met haar verloor want Springs was met destydse vervoer baie ver van Krugersdorp. Sy daag toe eendag, so ses maande na haar troue, daar by ons op. My ma het toe sommer weer lekker met haar gesels. Soos maar gebruiklik praat hulle later ook oor die kerk. Toe tannie Steffens hier in Krugersdorp was, was sy saam met my ma baie aktief in die Sustersvereniging van die Gereformeerde kerk. Haar nuwe man was ‘n lid van die AGS in Springs. Toe my ma van die kerk begin praat, raak die tannie heeltemal ontsteld. Sy sê sy wil niks weet van ons gemeente en die predikant nie want hy het haar ‘n vreeslike lelike telegram met haar troue gestuur.
My ma vra wat het dan in die telegram gestaan? Sy grawe so in haar handsak en haal die verkreulde pienk telegramkoevert uit . Die telegram was nog van die waar repies papier so op die vorm geplak was. Die bewoording was kort en kragtig. “Veelsgeluk lees Joh 4 vers 18” My ma sê toe dat ek die Bybel moet gaan haal. My ma lees toe: “want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”
Geskok sê my ma dat ek die dominee moet gaan bel om alles uit te klaar. Ons het toe nie ‘n foon in die huis gehad nie en ek moes na die ‘tiekie boks’ toe loop waar ek die dominee geskakel het. Hy was sommer gou gou daar by ons huis. Nadat hy aandagtig na die telegram gekyk het, begin hy lag. Hy sê dat daar êrens ‘n fout ingesluip het en dat dit moes gelees het 1 Johannes 4 vers 18 wat lees: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite.” Juis omdat sy so bang was om weer te trou het die predikant hierdie vers gekies. Met die oorsend van die telegram het die ‘1’ verlore gegaan.
In 1951 het ek as klerk van die kriminele hof in Krugersdorp gewerk. Ek het myself loseer in ‘n kamer met ‘n straataansig in Lake Avenue 49. Gedurende die laat middag van 13 Februarie was ek besig om my aandete te nuttig. Dit was twee Weet Bix met botter en ‘n knippie sout.
Soos ek so by die venster uitstaar, sien ek twee meisies daar verby loop in die rigting van Markstraat. Ek gryp toe my baadjie en sit die meisies agterna. By Markstaat draai die meisies toe links in die rigting van die dorp. Net verby die spruit haal ek toe die meisies in en ek vra toe: “Is julle dames nie bang om so alleen rond te loop nie?” Nadat ek my toe aan hulle voorgestel het, vra ek hulle of hulle nie saam met my na die mallemeule net oorkant die straat wou gaan nie. Hulle het albei ingewillig.
Ons het toe alles daar geniet. Van die skoppelmaaie tot die Wall of Death waar ‘n waaghals met ‘n motorfiets teen die muur opgery het.
Ons het saam spookasem en kiepiemielies geëet. Annetjie, die blonde enetjie, het ‘n baie innemende geaardheid gehad terwyl Yvonne, Annetjie se vriendin, baie afsydig was. Annetjie het net gesê dat hulle voor tienuur die aand by die huis moes wees. Ons is toe so halftien daar weg van die mallemeule nadat ons die aand darem baie geniet het.
Ek stap toe saam met hulle tot by hulle huis. Dit was 19 Lake Avenue. Yvonne het net nag gesê en is dadelik die huis in. Annetjie het nog buite getalm, maar my nie ingenooi nie. Ek het gevra of ek haar weer kan besoek. Sy het toe ja gesê en genoem dat sy nou moet ingaan. Ek het my hand uitgesteek om haar te groet. Toe sit sy sommer haar hande om my lyf onder my baadjie in. Sy sê toe dat sy koud kry. Sy is toe die huis in sonder om my hand te skud.
Dit was die begin van groot dinge en ons het altyd die 13de as ‘n herdenking gevier.
Toe ek op hoërskool was, was ek lid van die kerk se JV op GG (Jongeliede vereniging op Gereformeerde Grondslag). Ons het maandeliks vergader en dan het een ‘n kort toespraak gelewer en net daarna was daar ‘n debat gevoer oor die toespraak se onderwerp.
Eenmaal het die voorsitter my gevra om vir die volgende vergadering ‘n toespraak voor te berei. Die onderwerp moes wees Aan Watter Plesier Kan ‘n Calvinistiese Jongmens deelneem.
Ek was skoon uit die veld geslaan, maar toe gaan ek na ds Douw Venter en ek vra hom om my te help. Hy sê toe dat ek eers my toespraak moes uitskryf en dit dan na hom te bring dan sou hy my met die afronding daarvan help.
Ek kies toe Prediker 12 as my uitgangspunt. En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie. (53 vertaling) Ek het toe verder daarop uitgebrei dat as jy dan aan plesier wil deelneem, jy altyd jou Skepper voor oë moes hou.
Ek vra toe vir die dominee om vir my te verduidelik Die wagters van die huis sal bewe Hy sê toe dat ou mense se hande bewe. Die sterk manne krom word. Dit is jou bene as jy oud word. Die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het. Dit is die ou mens se tande. Die wat deur die vensters kyk, verduister word. Swak oë deur hoë ouderdom. Die geruis van die meul verswak. Doofheid wat deur ouderdom veroorsaak word. Die amandelboom sal in bloei staan. Gryshare. Die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep. Die ou mens wat met moeite loop.
Toe vra ek die predikant wat beteken en verskriklike dinge sal op die pad wees. Hy sê toe dat dit seker ‘n Volkswagen moet wees!
Die Doppers glo mos dans is sonde. Ek vra ds Douw toe uit daaroor. Hy sê toe as jy met jou vrou alleen in die huis is, en jy dans met haar van agt tot twaalf die nag en jy sê jy geniet dit, dan is dit nie sonde nie.
Nou ds Douw was ‘n chain smoker en mense het gesê dat hy nog eendag met ‘n sigaret op die preekstoel gaan klim. Ek vra hom toe of rook dan nie ook sonde is nie. Hy antwoord: Yes and what about it?
Die volgende het ek nie op skrif gelees nie. Dit is maar mondeliks aan my oorgedra.
My oupagrootjie, Johannes Hendrik Venter, was die enigste kind. My oupa, Jan Hendrik Venter, was ook die enigste kind. Op 2 of 3 Junie 1902 was hy te perd terug na sy plaas naby Makwassie net na die Anglo Boereoorlog. Die Vrede van Vereeniging was die 31ste Mei 1902, maar Engelse soldate wat nog nie geweet het dat die vrede verklaar is nie, het hom op sy perd doodgeskiet.
My ouma het toe my pa verwag en hy is op die 4de Augustus 1902 gebore en hy is as Johannes Hendrik gedoop. Die afsterwe van haar man het my ouma diep getref en sy is oorlede toe my pa twaalf jaar oud was. Hy was die enigste kind. Hy het toe by ‘n Schmit gesin in Christiana groot geword waar hy ook die aambag as grofsmit geleer het.
Hy het toe ‘n besigheid as grofsmit in Krugersdorp begin. Die besigheid was bekend as Blacksmith, Farrier and Bodybuilder. Die bodybuilder het verwys na die werk as wabouer. Hy was versoek om die plaaslike rugbyspan af te rig. Die span het hulle liga wedstryde gewen en hulle het selfs twee Springbokke opgelewer. Hulle truie was wit met ‘n rooi streep, wat later Transvaal (nou die Goue Leeus) se rugby kleure geword het.
My pa het my ma daar in Krugersdorp ontmoet en hulle is ook daar getroud. Ek is op die 12de Junie 1931 in Krugersdorp gebore as Jan Hendrik. My pa is oorlede toe ek vier jaar oud was. My ma is weer in 1938 getroud met NFJ Snyman. Uit daardie huwelik is daar ook net een seun gebore, Jacobus Philipus. Ek is egter die enigste Venter.
Ek is op 7 November 1953 getroud in Krugersdorp met Annetjie Holder. (Annetjie is gebore in Krugersdorp as Anna Wilhelmina Helena op 5 Februarie 1932.) Sy het die volgende jaar op die 16de September 1954 geboorte geskenk aan Johannes Hendrik – ook in Krugersdorp.
Johan, soos hy algemeen bekend is, het in ongeveer Julie 1975 met Johanna Maria Le Roux (Marianne) getrou terwyl hy op universiteit was. Annemari is op 29 Februarie 1976 gebore. Johan is geskei in 1980 net na verpligte weermag-basies, terwyl hy Offisiersopleiding in die weermag in Kroonstad gekry het. Johan het weer op 27 April 1985 met Elmarie Pretorius (gebore op 31 Oktober 1962 in Krugersdorp) in die huwelik getree. Hulle enigste kind, Elriëtte Herni, is op 3 Augustus 1990 gebore.
Nico Francois is veertien en ‘n half jaar na Johan gebore op die 4de Mei 1969. Hy is ook in Krugersdorp gebore. Nico het op 13 November met Nadine in die huwelik getree. Nadine is op 3 April 1980 in Bloemfontein gebore. Hulle het twee kinders, naamlik Jessica-Anne wat op 14 Maart 2011 gebore is, en Leo Henri wat op 5 Februarie 2014 gebore is. Die kinders is beide in Sandton gebore. Nico en sy gesin is tans woonagtig in Sydney Australia.
Toe ons naby Northam by die Krokkedilrivier gebly het, het my ma eenkeer gekla dat haar verestoffer gedaan is. Sy vra toe vir my of ek nie vir haar ‘n volstruis wou gaan skiet nie sodat sy van die vere weer vir haar ‘n stoffer kon maak.
Ek het geweet dat daar naby die rivier daar altyd ‘n troppie volstruise was. Ek vat toe die .22 geweer met net een patroon want onthou, dit was gedurende die oorlog en patrone was uiters skaars.
By die rivier sien ek toe die troppie volstruise oorkant die rivier wei. Ek soek toe ‘n groot mannetjie uit en vat dooie rus met die geweer. Toe die skoot klap, spring ‘n vis uit die water en die koeël tref eers die vis en toe die volstruis en vir albei was dit ‘n doodskoot. Ek was toe so bly dat ek skoon uit vreugde handeklap. ‘n Patrys wat daar in die gras gesit het, vlieg op en land tussen my hande waar ek hom toe morsdood klap. Ek skrik toe so groot dat ek agteroor val bo op ‘n klein likkewaan wat ek toe ook dood geval het.
Ek het toe my enigste paar skoolskoene aangehad en ek kon nie met hulle deur die rivier loop nie. ’n Ent verder af was daar ‘n brug en ek stap daarheen. Naby die brug sien ek ‘n jakkals met een van my ma se rooi White Leghorn hoenders in sy bek. Ek voel toe in my sakke of daar nie nog ‘n verdwaalde patroon is nie. Al wat ek toe kry, was ‘n sesduim spyker wat ek toe in die geweer laai. Nou ‘n spyker trek nie so vinnig soos ‘n koeël nie en die jakkals sien dit aankom, maar gelukkig skiet ek sy stert in die boom vas en daar spat die hoender uit sy bek en laat spaander huistoe.
Net oorkant die brug kom ek op ‘n leeu af wat my toe bestorm. My pa het my vertel dat as ‘n leeu jou bestorm met sy bek so oopgerek, moet jy net sy tong vasgryp en dan kan hy jou niks doen nie. Ek probeer, maar ongelukkig vang ek sy tong toe mis, maar my hand gly toe in sy keel af tot diep binne die leeu. Toe ek my hand terug trek, dop ek die leeu om sodat sy binneste toe buite toe was. Toe word die leeu eers kwaad en hy jaag my om die groot kremetart boom en ek hardloop so vinnig om die boom dat ek die agterkant van my kop sien. Die onderste takke van die boom was so 28 voet van die grond af en ek spring toe op daarheen. Ongelukkig vang ek die tak mis, maar toe ek afkom kon ek die tak darem raak vang.
Volgende keer vertel ek hierdie lewensverhaal verder.
Hoe dikwels word daar gesê,
En dan word die Bybel aangehaal:
Rig jou net op die toekoms wat voorlê.
In jou verlede was jy opgesaal
Net met kruise wat jy moet agterlaat.
Nogtans brand dit in my hart
En trane wel in my oë.
Regtig herleef ek weer die smart
Innig soos in baie dae vervloë.
Nou kan ek my net op die HERE verlaat.
Geloof, hoop en liefde is al wat oorbly.
Ek vertrou mooi herinneringe sal net drome bly.
Hoe dikwels word daar gesê,
En dan word die Bybel aangehaal:
Rig jou net op die toekoms wat voorlê.
In jou verlede was jy opgesaal
Net met kruise wat jy moet agterlaat.
Nogtans brand dit in my hart
En trane wel in my oë.
Regtig herleef ek weer die smart
Innig soos in baie dae vervloë.
Nou kan ek my net op die HERE verlaat.
Geloof, hoop en liefde is al wat oorbly.
Ek vertrou mooi herinneringe sal net drome bly.

“J y is my kind.
E k is jou Saligmaker,”
S ê sy Stem op die wind.
U is my Bewaarder,
S o bly ek het U gevind!
Ek stap saam met jou die bultjie op
Is dit die bult of my gevoelens wat my hart so laat klop?
Ek voel toe eers of die ring nog daar is
Toe vra ek die vraag wat so swaar is:
“Botsie-skattie, wil jy my verloofde wees?”
Jou koppie knik, in jou oë is ” Ja ” te lees.
Die ring gly oor die vinger van jou linkerhand,
Toe is dit jou lippe wat op myne brand.
Net daarna sê jy sag:
“Maak gou, die mense wag”
29 Julie 2014.
‘n Mens kan nie ‘n vlinder mak maak nie.
Wie sal verstaan, ek vra weer wie
Sal begrip hê vir die oomblik van genot
Tussen vlinder en die blom wat bot?
Die vlinder vlieg voort na die volgende blom
Wyl die blom smag dat die vlinder weer moet kom.
Kortstondig was hul liefdesverhouding nou.
Net die blom sal dit lank nog kan onthou.
Jy moenie probeer om ‘n vlinder te tem nie
Want jy verstaan nie haar sangstem nie!
UIt die Pen van Jan Venter – Gedig – VLINDER
Marina, musiek laat my lewe.
Alles wat ek ooit na kan strewe
Raar, maar tog so baie waar,
Is die musiek wat ek van ander ervaar.
Namens almal hier wil ek dank betoon.
Al jou musiek sal in ons harte bly woon.
Uit die Pen van Jan Venter – Naamdiggie – MARINA
(na Marina Mentz musiek opgevoer het by Retreat by JH Venter se 84ste verjaarsdag)
Ek sien nog die geel lig van die saal in jou hare,
Lewendig sien ek dit nog al die jare,
Soos die goud vlokkies wat dansend skitter in jou ogies.
Alles so beeldskoon soos môredou se reënbogies.
In Johannes 20 vers 7 word ‘n hele vers gewy aan Jesus se kopdoek wat afsonderlik eenkant opgerol gelê het. Waarom? As ons die Joodse gebruike nie verstaan nie, het dit geen betekenis nie.
My pa is oorlede toe ek vier jaar oud was en my ma het kort daarna by Jode gaan werk as opsigter oor hulle drie werkers in die huis. Een was die kok en tee maker, die tweede was verantwoordelik vir die was en stryk en die derde moes daardie groot huis aan die kant maak. Dan was daar nog ‘n man wat voltyds in die tuin gewerk het en hy moes ook die karre was. Ons het daar in hulle tuinwoonstel gebly.
Vrydagaande was die groot byeenkoms van die Rubensteins familie. Dan was daar twaalf familie lede. Dit was ook die begin van hulle Sabbatviering. Dan het die oubaas Rubenstein uit sy Torah gelees en almal het saam gedreunsing voor die ete wat drie tot vier ure geduur het. Die Torah is die eerste vyf boeke van die Bybel. Die oubaas wou my ook altyd daar hê en ek moes eenkant stil sit. Die ete was gewoonlik “ghafielte” fish en die wyn was Hagefen, ‘n soet wyn. Die oubaas het altyd vir my ‘n paar druppels van daardie wyn laat proe.
Gedurende die ete was verkeerde optredes van die familie bespreek en die oortreder is dan berispe. Soos ‘n kleindogter wat iets by Knights, ‘n Engelse winkel vir haar gaan koop het. Die oubaas het gesê dat jy net by Joodse winkels koop en as hulle nie het wat jy wil hê nie, dan bly jy daarsonder.
Die oubaas het altyd sy gebedsdoekie of kopdoek daar gedra. Deurdat die ete so lank geduur het, was dit soms nodig om van die tafel verskoon te word. As die oubaas homself verskoon, het hy altyd sy gebedsdoek netjies opgevou en eenkant neer gesit. As hy klaar met die ete was, het hy die doekie soos ‘n servet gebruik en opgefrommel in sy bord gesit.
Nou wat beteken die kopdoek eenkant netjies opgerol? Dit beteken net een ding:
Hy kom weer.