Vergeet …

VERGEET

(‘n Toneelstuk in een bedryf opgevoer in die Gereformeerde Kerksaal gedurende die jaareind funksie circa 2000)

As die gordyne oopskuif, sit Jan by ‘n gedekte tafel geklee in ‘n baadjie, hemp en das. Aan die voorkant van die tafel aan die gehoor se kant, hang die tafeldoek tot op die grond. Op die tafel staan sy briewetas.

Jan: As ek so na die gehoor kyk, lyk dit vir my of die Doppers vergeet het om konsert toe te kom…..
Lees koerant
Hier staan dit….Die helfte van Huilboslaan is in die donkerte gehul omdat die meeste mense vergeet het om hulle water en ligte rekenings te betaal….
‘n Boer het vergeet om sy hek toe te maak en sy vee het verlede nag groot verwarring veroorsaak op die R101. Arme beeste, hulle ook maar seker net op die teerpad gaan wei het…..
Klippie, ou vrou, hoe lyk dit? Kry ek nie ontbyt vanmôre nie? Klippie, het jy vergeet dat ek vandag werk toe gaan? Toe kom nou, Klippie.

Klippie kom op met ‘n skinkbord. Sit die skinkbord op die tafel neer en loop af.

Jan: Klippie, jy het die suiker vergeet.

Klippie bring die suikerpot en gaan af.

Jan: Die mensdom vandag…..almal vergeet net en dan sê hulle net…..jammer ek het vergeet. Die burgemeester vergeet om by die skou op te daag en moes toe herinner word. Wat ‘n geskarrel het dit net nie afgegee nie.

Eet intussen.

Dertig persent van die bevolking vergeet om hulle inkomstebelasingvorms in te handig. Kyk net hoe hardloop die manne rond as die vulliswa verby kom, almal vergeet mos altyd om die swart sakke uit te sit.
Dit is darem vreeslik soos dit deesdae aangaan….. almal vergeet net.
Vat nou maar vir dominee, hy noem sy oudste seun Hanou, maar as mens na sy spannetjie mooi dogters kyk, is dit duidelik dat hy vergeet het wat die woord Hanou beteken.
Lank gelede toe ek nog op skool was……
Klippie, het jy vergeet om my lunch te bring? Jy weet mos dat ek werk toe moet gaan of het jy net vergeet?

Klippie bring ‘n pakkie en gaan af.

Dit lyk meer na toebroodjies as na lunch. Ek hoop net sy het nie vergeet dat ek net botter eet nie.
O dit is darem goed dat daar nog mense soos ek is wat kan onthou. Wat sou gebeur as almal net vergeetagtig is. Die wêreld sou net ophou bestaan as dit nie was vir mense soos ek nie.
Klippie, kom jy my nie totsiens sê nie?

Klippie kom op, soen Jan en staan met hande in die sye en kyk as Jan sy briewetas neem en, netjies geklee in sy pak as hy afstap sonder sy broek.

Applous