In 1951 het ek as klerk van die kriminele hof in Krugersdorp gewerk. Ek het myself loseer in ‘n kamer met ‘n straataansig in Lake Avenue 49. Gedurende die laat middag van 13 Februarie was ek besig om my aandete te nuttig. Dit was twee Weet Bix met botter en ‘n knippie sout.
Soos ek so by die venster uitstaar, sien ek twee meisies daar verby loop in die rigting van Markstraat. Ek gryp toe my baadjie en sit die meisies agterna. By Markstaat draai die meisies toe links in die rigting van die dorp. Net verby die spruit haal ek toe die meisies in en ek vra toe: “Is julle dames nie bang om so alleen rond te loop nie?” Nadat ek my toe aan hulle voorgestel het, vra ek hulle of hulle nie saam met my na die mallemeule net oorkant die straat wou gaan nie. Hulle het albei ingewillig.
Ons het toe alles daar geniet. Van die skoppelmaaie tot die Wall of Death waar ‘n waaghals met ‘n motorfiets teen die muur opgery het.
Ons het saam spookasem en kiepiemielies geëet. Annetjie, die blonde enetjie, het ‘n baie innemende geaardheid gehad terwyl Yvonne, Annetjie se vriendin, baie afsydig was. Annetjie het net gesê dat hulle voor tienuur die aand by die huis moes wees. Ons is toe so halftien daar weg van die mallemeule nadat ons die aand darem baie geniet het.
Ek stap toe saam met hulle tot by hulle huis. Dit was 19 Lake Avenue. Yvonne het net nag gesê en is dadelik die huis in. Annetjie het nog buite getalm, maar my nie ingenooi nie. Ek het gevra of ek haar weer kan besoek. Sy het toe ja gesê en genoem dat sy nou moet ingaan. Ek het my hand uitgesteek om haar te groet. Toe sit sy sommer haar hande om my lyf onder my baadjie in. Sy sê toe dat sy koud kry. Sy is toe die huis in sonder om my hand te skud.
Dit was die begin van groot dinge en ons het altyd die 13de as ‘n herdenking gevier.
