My ma was ‘n aktiewe lid van die kerk se Sustersvereniging. Een keer toe dit haar en haar vriendin, tannie Steffens, se beurt was om verversings vir die vergadering te maak, het my ma twee koeke gebak. As ons met die bus gery het tot by Krugersdorp se stadsaal, was dit nog ‘n hele ent na die kerk toe. Die Gereformeerde Kerk was net onder die Monumentdam geleë. My ma vra toe vir my of ek sal help met die koek wat toe in twee koekblikke was.
By die kerk aangekom, was daar reeds tussen twintig en dertig dames. Die predikant, ds Willie Venter, het die vergadering geopen en toe my genooi om saam met hom in sy studeerkamer te gaan sit totdat die vergadering verby is. Na die vergadering het ek en die dominee weer na die susters gegaan waar die tee en koek bedien sou word.
Tannie Steffens het soetkoekies gebak, maar ongelukkig toe te veel suiker gebruik wat die koekies toe klinkers gemaak het.
My ma het altyd gesê dat as jy goeie maniere wil leer, moet jy net na ds Willie kyk. Hy het mooi verfynde maniere. Nou ek drink mos nie tee nie, nou sit ek net vir die dominee en dophou. Hy het een van tannie Steffens se klinkers geneem en die puntjie toe so in sy tee probeer week. Dan kou kou hy weer so versigtig aan die kant van die harde koekie.
Eenkeer toe hy weer die koekie probeer week, tik hy die koekie so teen die kant van sy koppie en per ongeluk slaan hy toe ‘n hap uit Mevrou se fyn porselein koppie.
Soveel vir die leer van goeie maniere.
