Die volgende het ek nie op skrif gelees nie. Dit is maar mondeliks aan my oorgedra.
My oupagrootjie, Johannes Hendrik Venter, was die enigste kind. My oupa, Jan Hendrik Venter, was ook die enigste kind. Op 2 of 3 Junie 1902 was hy te perd terug na sy plaas naby Makwassie net na die Anglo Boereoorlog. Die Vrede van Vereeniging was die 31ste Mei 1902, maar Engelse soldate wat nog nie geweet het dat die vrede verklaar is nie, het hom op sy perd doodgeskiet.
My ouma het toe my pa verwag en hy is op die 4de Augustus 1902 gebore en hy is as Johannes Hendrik gedoop. Die afsterwe van haar man het my ouma diep getref en sy is oorlede toe my pa twaalf jaar oud was. Hy was die enigste kind. Hy het toe by ‘n Schmit gesin in Christiana groot geword waar hy ook die aambag as grofsmit geleer het.
Hy het toe ‘n besigheid as grofsmit in Krugersdorp begin. Die besigheid was bekend as Blacksmith, Farrier and Bodybuilder. Die bodybuilder het verwys na die werk as wabouer. Hy was versoek om die plaaslike rugbyspan af te rig. Die span het hulle liga wedstryde gewen en hulle het selfs twee Springbokke opgelewer. Hulle truie was wit met ‘n rooi streep, wat later Transvaal (nou die Goue Leeus) se rugby kleure geword het.
My pa het my ma daar in Krugersdorp ontmoet en hulle is ook daar getroud. Ek is op die 12de Junie 1931 in Krugersdorp gebore as Jan Hendrik. My pa is oorlede toe ek vier jaar oud was. My ma is weer in 1938 getroud met NFJ Snyman. Uit daardie huwelik is daar ook net een seun gebore, Jacobus Philipus. Ek is egter die enigste Venter.
Ek is op 7 November 1953 getroud in Krugersdorp met Annetjie Holder. (Annetjie is gebore in Krugersdorp as Anna Wilhelmina Helena op 5 Februarie 1932.) Sy het die volgende jaar op die 16de September 1954 geboorte geskenk aan Johannes Hendrik – ook in Krugersdorp.
Johan, soos hy algemeen bekend is, het in ongeveer Julie 1975 met Johanna Maria Le Roux (Marianne) getrou terwyl hy op universiteit was. Annemari is op 29 Februarie 1976 gebore. Johan is geskei in 1980 net na verpligte weermag-basies, terwyl hy Offisiersopleiding in die weermag in Kroonstad gekry het. Johan het weer op 27 April 1985 met Elmarie Pretorius (gebore op 31 Oktober 1962 in Krugersdorp) in die huwelik getree. Hulle enigste kind, Elriëtte Herni, is op 3 Augustus 1990 gebore.
Nico Francois is veertien en ‘n half jaar na Johan gebore op die 4de Mei 1969. Hy is ook in Krugersdorp gebore. Nico het op 13 November met Nadine in die huwelik getree. Nadine is op 3 April 1980 in Bloemfontein gebore. Hulle het twee kinders, naamlik Jessica-Anne wat op 14 Maart 2011 gebore is, en Leo Henri wat op 5 Februarie 2014 gebore is. Die kinders is beide in Sandton gebore. Nico en sy gesin is tans woonagtig in Sydney Australia.
