JEUG ERVARINGS

Toe ons naby Northam by die Krokkedilrivier gebly het, het my ma eenkeer gekla dat haar verestoffer gedaan is. Sy vra toe vir my of ek nie vir haar ‘n volstruis wou gaan skiet nie sodat sy van die vere weer vir haar ‘n stoffer kon maak.

Ek het geweet dat daar naby die rivier daar altyd ‘n troppie volstruise was. Ek vat toe die .22 geweer met net een patroon want onthou, dit was gedurende die oorlog en patrone was uiters skaars.

By die rivier sien ek toe die troppie volstruise oorkant die rivier wei. Ek soek toe ‘n groot mannetjie uit en vat dooie rus met die geweer. Toe die skoot klap, spring ‘n vis uit die water en die koeël tref eers die vis en toe die volstruis en vir albei was dit ‘n doodskoot. Ek was toe so bly dat ek skoon uit vreugde handeklap. ‘n Patrys wat daar in die gras gesit het, vlieg op en land tussen my hande waar ek hom toe morsdood klap. Ek skrik toe so groot dat ek agteroor val bo op ‘n klein likkewaan wat ek toe ook dood geval het.

Ek het toe my enigste paar skoolskoene aangehad en ek kon nie met hulle deur die rivier loop nie. ’n Ent verder af was daar ‘n brug en ek stap daarheen. Naby die brug sien ek ‘n jakkals met een van my ma se rooi White Leghorn hoenders in sy bek. Ek voel toe in my sakke of daar nie nog ‘n verdwaalde patroon is nie. Al wat ek toe kry, was ‘n sesduim spyker wat ek toe in die geweer laai. Nou ‘n spyker trek nie so vinnig soos ‘n koeël nie en die jakkals sien dit aankom, maar gelukkig skiet ek sy stert in die boom vas en daar spat die hoender uit sy bek en laat spaander huistoe.

Net oorkant die brug kom ek op ‘n leeu af wat my toe bestorm. My pa het my vertel dat as ‘n leeu jou bestorm met sy bek so oopgerek, moet jy net sy tong vasgryp en dan kan hy jou niks doen nie. Ek probeer, maar ongelukkig vang ek sy tong toe mis, maar my hand gly toe in sy keel af tot diep binne die leeu. Toe ek my hand terug trek, dop ek die leeu om sodat sy binneste toe buite toe was. Toe word die leeu eers kwaad en hy jaag my om die groot kremetart boom en ek hardloop so vinnig om die boom dat ek die agterkant van my kop sien. Die onderste takke van die boom was so 28 voet van die grond af en ek spring toe op daarheen. Ongelukkig vang ek die tak mis, maar toe ek afkom kon ek die tak darem raak vang.

Volgende keer vertel ek hierdie lewensverhaal verder.