‘ n Glipsie? Nee nooit!

Toe Anne sien dat haar tyd om babas te kry, besig is om uit te loop, was haar grootste begeerte om nog ‘n kind te hê. Onthou, sy was een van nege kinders en net ‘n enkele een was vir haar nie reg nie. Ons het toe hard probeer en sy het swanger geword, maar op ses weke het sy ‘n miskraam gehad. Ons het destyds in 4 G.M.T.S. in Maraisburg gebly.

Ons het toe ‘n bekende dokter, dr Gerhard Mes in Krugersdorp, gaan spreek. Hy het toe ‘n hele lange lys gegee van wat om te doen, wat om te eet en wat om aan te trek; selfs die soort onderklere wat ek moes dra. Die sekere tyd van die maand en die temperatuur moes presies gewees het. Ons het streng by al die reëls gehou.

Een Donderdag in Augustus, ek dink dit was die sesde, het sy my elfuur die oggend by die werk gebel en gesê dat alles nou reg is en dat ek moes gou maak. Ek het toe van die werk af weggeloop sonder om te sê waarheen ek gaan. Wat sou ek in elk geval kon gesê het?

Ons het toe alles mooi beplan en vir die volgende nege maande baie versigtig gewees. Dit was vir haar ‘n groot voorreg om swanger te wees.

Hier van die sewende maand het my stiefpa weekliks na ons toe gekom en by Anne gepleit dat die kind na hom vernoem moes word. Sy het gesê dat sy nooit haar kind my stiefpa se name, Nicolaas Frans Johannes, sou toewens nie. Ons het baie gesprekke gehad oor die baba se name. Iemand het voorgestel dat hy na die Holder familie genoem moet word, naamlik Edmund William. Johan het gevoel dat Edmund William goed pas by Holder, maar glad nie pas by Venter nie. Daar was ook reeds oor as genoeg Eddies in die familie. Johan het voorgestel dat ons nie Nicolaas moet gebruik nie, want baie van hulle word Nieklaas genoem wat nie goed klink in Afrikaans nie. Hy het voorgestel dat ons dit moet versag na Nico Francois. My Stiefpa het weekliks kom soebat, want daar is niemand ooit wat na hom genoem kon word nie. Naderhand het Anne ingestem om die baba Nico Francois te noem op voorwaarde dat hy nooit Nick genoem mag word nie, want dis Nick the Greek.

Na die veertigste week van swangerskap het die dokter voorgestel dat sy na die hospitaal toe moet gaan daar in Krugersdorp sodat hulle induksie kon doen. Hy het nog die opmerking gemaak dat die stouterd so lekker bly in sy nessie dat hy nie wou uitkom nie.

Die vroeë aand van 4 Mei 1969 is ons toe oppad hospitaal toe waar die induksie die volgende oggend sou plaasvind. Toe ek in die pad kom, tref ek ‘n slaggat en Anne skree Eina! Ek stop toe maar sy sê nee alles is reg. Ek het haar so tussen sewe en halfagt die aand by die hospitaal nag gesê en het belowe dat en die volgende oggend daar sal wees voor haar induksie.

Ek is toe na Eddie en Lenie toe wat daar in Krugersdorp gebly het om vir hulle die nuus te vertel. Terwyl ek daar was, het ons die goeie nuus gehoor dat sy normaalweg geboorte geskenk het. Dit was ‘n wonderwerk!

Die ouderdom verskil tussen ons twee kinders is veertien en ‘n half jaar wat amper ongelooflik is.

Ek het maar vir almal gesê dat ons intussen die resep verloor het.