JEUG ERVARINGS

Toe ons naby Northam by die Krokkedilrivier gebly het, het my ma eenkeer gekla dat haar verestoffer gedaan is. Sy vra toe vir my of ek nie vir haar ‘n volstruis wou gaan skiet nie sodat sy van die vere weer vir haar ‘n stoffer kon maak.

Ek het geweet dat daar naby die rivier daar altyd ‘n troppie volstruise was. Ek vat toe die .22 geweer met net een patroon want onthou, dit was gedurende die oorlog en patrone was uiters skaars.

By die rivier sien ek toe die troppie volstruise oorkant die rivier wei. Ek soek toe ‘n groot mannetjie uit en vat dooie rus met die geweer. Toe die skoot klap, spring ‘n vis uit die water en die koeël tref eers die vis en toe die volstruis en vir albei was dit ‘n doodskoot. Ek was toe so bly dat ek skoon uit vreugde handeklap. ‘n Patrys wat daar in die gras gesit het, vlieg op en land tussen my hande waar ek hom toe morsdood klap. Ek skrik toe so groot dat ek agteroor val bo op ‘n klein likkewaan wat ek toe ook dood geval het.

Ek het toe my enigste paar skoolskoene aangehad en ek kon nie met hulle deur die rivier loop nie. ’n Ent verder af was daar ‘n brug en ek stap daarheen. Naby die brug sien ek ‘n jakkals met een van my ma se rooi White Leghorn hoenders in sy bek. Ek voel toe in my sakke of daar nie nog ‘n verdwaalde patroon is nie. Al wat ek toe kry, was ‘n sesduim spyker wat ek toe in die geweer laai. Nou ‘n spyker trek nie so vinnig soos ‘n koeël nie en die jakkals sien dit aankom, maar gelukkig skiet ek sy stert in die boom vas en daar spat die hoender uit sy bek en laat spaander huistoe.

Net oorkant die brug kom ek op ‘n leeu af wat my toe bestorm. My pa het my vertel dat as ‘n leeu jou bestorm met sy bek so oopgerek, moet jy net sy tong vasgryp en dan kan hy jou niks doen nie. Ek probeer, maar ongelukkig vang ek sy tong toe mis, maar my hand gly toe in sy keel af tot diep binne die leeu. Toe ek my hand terug trek, dop ek die leeu om sodat sy binneste toe buite toe was. Toe word die leeu eers kwaad en hy jaag my om die groot kremetart boom en ek hardloop so vinnig om die boom dat ek die agterkant van my kop sien. Die onderste takke van die boom was so 28 voet van die grond af en ek spring toe op daarheen. Ongelukkig vang ek die tak mis, maar toe ek afkom kon ek die tak darem raak vang.

Volgende keer vertel ek hierdie lewensverhaal verder.

Hy kom weer!

In Johannes 20 vers 7 word ‘n hele vers gewy aan Jesus se kopdoek wat afsonderlik eenkant opgerol gelê het.  Waarom?  As ons die Joodse gebruike nie verstaan nie, het dit geen betekenis nie.

My pa is oorlede toe ek vier jaar oud was en my ma het kort daarna by Jode gaan werk as opsigter oor hulle drie werkers in die huis.  Een was die kok en tee maker, die tweede was verantwoordelik vir die was en stryk en die derde moes daardie groot huis aan die kant maak.  Dan was daar nog ‘n man wat voltyds in die tuin gewerk het en hy moes ook die karre was.  Ons het daar in hulle tuinwoonstel gebly.

Vrydagaande was die groot byeenkoms van die Rubensteins familie.  Dan was daar twaalf familie lede.  Dit was ook die begin van hulle Sabbatviering.  Dan het die oubaas Rubenstein uit sy Torah gelees en almal het saam gedreunsing voor die ete wat drie tot vier ure geduur het.  Die Torah is die eerste vyf boeke van die Bybel.  Die oubaas wou my ook altyd daar hê en ek moes eenkant stil sit.  Die ete was gewoonlik “ghafielte” fish en die wyn was Hagefen, ‘n soet wyn.  Die oubaas het altyd vir my ‘n paar druppels van daardie wyn laat proe.

Gedurende die ete was verkeerde optredes van die familie bespreek en die oortreder is dan berispe.  Soos ‘n kleindogter wat iets by Knights, ‘n Engelse winkel vir haar gaan koop het.  Die oubaas het gesê dat jy net by Joodse winkels koop en as hulle nie het wat jy wil hê nie, dan bly jy daarsonder.

Die oubaas het altyd sy gebedsdoekie of kopdoek daar gedra.  Deurdat die ete so lank geduur het, was dit soms nodig om van die tafel verskoon te word.  As die oubaas homself verskoon, het hy altyd sy gebedsdoek netjies opgevou en eenkant neer gesit.  As hy klaar met die ete was, het hy die doekie soos ‘n servet gebruik en opgefrommel in sy bord gesit.

Nou wat beteken die kopdoek eenkant netjies opgerol?  Dit beteken net een ding:
Hy kom weer.

Die Telegram

My ma het ‘n vriendin gehad wat dikwels by ons kom kuier het. Ek het haar net as tannie Steffens geken. Sy was al diep in haar vyftiger jare en was ‘n weduwee vir meer as twintig jaar.

Haar getroude lewe was ‘n groot raaisel. Sy het die eerste keer getrou toe sy agtien was. Sy was op twintig reeds ‘n weduwee. Sy het daarna weer getrou en was teen die ouderdom dertig reeds vierkeer weduwee. Haar mans is almal aan ongelukke oorlede. Een het van ‘n windpomp afgeval, ‘n ander het verdrink in die steengroef gate in Burgershoop en so met ongelukke het almal aan hulle einde gekom. Sy het toe besluit om nooit weer te trou nie want sy was ‘n ongeluksvoël vir mans.

My ma het haar vertel dat die eensaamheid op haar oudag haar baie gaan pla. In die Landbou weekblad was daar die Hoekie vir Eensames. Daar het sy toe weer ‘n vriend ontmoet. Hy was in Springs woonagtig en na ‘n paar maande is hulle toe daar getroud. So het ons toe kontak met haar verloor want Springs was met destydse vervoer baie ver van Krugersdorp. Sy daag toe eendag, so ses maande na haar troue, daar by ons op. My ma het toe sommer weer lekker met haar gesels. Soos maar gebruiklik praat hulle later ook oor die kerk. Toe tannie Steffens hier in Krugersdorp was, was sy saam met my ma baie aktief in die Sustersvereniging van die Gereformeerde kerk. Haar nuwe man was ‘n lid van die AGS in Springs. Toe my ma van die kerk begin praat, raak die tannie heeltemal ontsteld. Sy sê sy wil niks weet van ons gemeente en die predikant nie want hy het haar ‘n vreeslike lelike telegram met haar troue gestuur.

My ma vra wat het dan in die telegram gestaan? Sy grawe so in haar handsak en haal die verkreulde pienk telegramkoevert uit . Die telegram was nog van die waar repies papier so op die vorm geplak was. Die bewoording was kort en kragtig. “Veelsgeluk lees Joh 4 vers 18” My ma sê toe dat ek die Bybel moet gaan haal. My ma lees toe: “want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

Geskok sê my ma dat ek die dominee moet gaan bel om alles uit te klaar. Ons het toe nie ‘n foon in die huis gehad nie en ek moes na die ‘tiekie boks’ toe loop waar ek die dominee geskakel het. Hy was sommer gou gou daar by ons huis. Nadat hy aandagtig na die telegram gekyk het, begin hy lag. Hy sê dat daar êrens ‘n fout ingesluip het en dat dit moes gelees het 1 Johannes 4 vers 18 wat lees: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite.” Juis omdat sy so bang was om weer te trou het die predikant hierdie vers gekies. Met die oorsend van die telegram het die ‘1’ verlore gegaan.

Moet Nooit …

Moet Nooit…..

Ek loop op die lughawe Charles de Gaulle by Parys in Frankryk en dink aan die afgelope vyf wonderlike dae hier in Parys.

Nie net was die rugby en die gees op die paviljoene onbeskryflik nie – alles was ongelooflik. Ons is Wêreldkampioene!

Ek het die Eiffeltoring gesien, ek het die gees ervaar van Bok Town naby die Eiffeltoring, waar onder andere Sunette Bridges vir duisende mense in Afrikaans gesing het, ek het langs die Champs Elysees met sy wye sypaadjies geloop na die Arc de Triomphe, ek het die Notre Dame gesien, ek het die sypaadjiekafees geniet, ek het die Denkerstandbeeld in die Rodin Museum gesien, ek het die stampvol ondergrondse treine wat hulle Metro noem, beleef, ag en nog te veel om op te noem. Dit was soos ‘n droom. My eerste besoek aan die wêreldstad Parys!

Terwyl ek so loop in die groot sale van die lughawe, val my oog op ‘n bord wat lees Port “something”. My Frans laat veel te wense, maar die woord laat my dink aan my kinderjare toe ek ‘n portmanteau gehad het. Ek dink ‘n ander naam vir ‘n portmanteau is ‘n reisvalies.

Maar dit daar gelaat – die portmanteau was ‘n groot leertas waarin ek al my goed gebêre het met al my omswerwinge. Ná hoërskool, toe ek uit die huis gegaan het, het ek al my waardevolle besittings soos my bloemlesings, my skoolrapporte, my sertifikate van verdienste, my atletiekbekertjies, my medaljes en die eerste briefies wat ek van ‘n meisie gekry het, in die portmanteau gepak en in die stoorkamer gaan wegsteek.

My oorlede ma het ‘n parfuum met die naam “Evening in Paris” gebruik. Dit het in ‘n donkerblou botteltjie gekom en bo-oor die bottletjie was daar ‘n wit miniatuur Eiffeltoring so ses sentimeters hoog. Ek het twee van die torinkies ook in my portmanteau gebêre.

Ek het altyd vir my ma gesê dat ek nog eendag na die Eiffeltoring wil gaan. My ma het altyd gesê: “Dit is baie ver, dit kos baie geld, vergeet dit.” Nou loop ek hier in Parys se lughawe na die vliegtuig wat my terug na Suid-Afrika sal neem en ek het aan die Eiffeltoring geraak!

Nou wat is die moral of the story? Moet nooit vir iemand sê dat sy droom iets is wat onmoontlik is nie. Ek is nou 77 jaar oud.

Die artikel het die 9de November 2007 In Die Pos, Warmbad se koerantjie, verskyn op bl 10. J H V

Rooi Jam

Dis ‘n vakansiedag en ek besluit om die leë koskas aan te vul.  In die supermark sien ek hoe ‘n tannie sukkel om ‘n blikkie van die die rak af te haal.

Meteens val daar ‘n halwe honderd blikkies kletterend rondom die tannie.  Sy staan daar hande in die lug soos iemand wat hensop.

Ek storm nader om te red wat te redde is, maar trap op ‘n rollende blikkie en val amper die tannie uit die aarde uit.

Ek ruik net 4711 olie kolonie toe ek die tannie tref.  Terwyl ek probeer om van die rollende blikkies op te tel, kom die vloerbestuurder daar aan want die lawaai van die vallende blikkies het hom nader geroep en hy begin my uit te trap waar ek daar staan met blikkies in my hande.

Hy noem dit dat hulle weens die vankansiedag “kort van staf” is en dat ek moet help opruim.

Toe ek uiteidelik buite die winkel kom, kom die ou tannie by my verby en sit ‘n blikkie rooi jam in my supermark trollie en sy sê “Dankie!”

MEMORIES EN MAMPOER

Nou die môre word ek wakker en oor die radio kom daar die mooi klanke van Memories uit die blyspel Cats.  Vir die van ons wat nog nie Cats gesien het nie: dit is die storie van `n klomp katte wat op `n ashoop bly.  Daar is die ramkat wat hom wat verbeel en die ouer kat wat alles wil regeer.  Naby die einde van die blyspel kom daar so `n ou verflenterde grys wyfiekat op en sy dink toe terug aan die dae toe sy nog jonk en mooi was.  Sy sing toe Memories en net daarna word sy weggevoer na die kattehemel.  Ek sê toe vir my beste dat as `n mens so oud soos ek geword het moet `n mens maar vashou aan jou herinneringe want die toekoms is soos `n muur hier voor jou. Continue reading “MEMORIES EN MAMPOER”