Nou die môre word ek wakker en oor die radio kom daar die mooi klanke van Memories uit die blyspel Cats. Vir die van ons wat nog nie Cats gesien het nie: dit is die storie van `n klomp katte wat op `n ashoop bly. Daar is die ramkat wat hom wat verbeel en die ouer kat wat alles wil regeer. Naby die einde van die blyspel kom daar so `n ou verflenterde grys wyfiekat op en sy dink toe terug aan die dae toe sy nog jonk en mooi was. Sy sing toe Memories en net daarna word sy weggevoer na die kattehemel. Ek sê toe vir my beste dat as `n mens so oud soos ek geword het moet `n mens maar vashou aan jou herinneringe want die toekoms is soos `n muur hier voor jou.
Dit laat my dink aan `n storie van my jeug. Pieter, Chummie en ek was groot maats gewees op hoërskool daar in Krugersdorp. Een Vrydagaand was ons op pad na die bioskoop – dit was nog lank voor daar televisie was. Toe ons by die mark verby loop, sien ons `n oubaas wat sukkel om kratte met hoenders van sy vragmotor af te laai. Die hoenders was natuurlik bestem vir die mark die Saterdagoggend. Ons help toe die oubaas en dra die kratte die markgebou binne. Hy nooi ons toe uit om eendag vir hom te kom kuier op Magaliesburg. Hy beduie ons mooi waar sy plasie is en sê ons is meer as welkom om te kom kuier.
So drie weke later op `n vervelige Saterdagmiddag is ons drie weer bymekaar met niks om te doen nie. Ons besluit toe om vir die ou oom te gaan kuier. Ons spring toe op ons fietse en daar gaan ons, Magaliesburg toe! Met `n fiets is dit sommer baie ver. Net toe ons die wit hoogte buite Krugersdorp af gaan, begin Pieter kla dat hy vreeslik dors is en daar is geen water naby nie. So dors-dors het ons toe maar aangery tot by die oom se plasie.
Daar aangekom vind ons hom besig om mampoer te stook. Ek weet nie of dit wettig of onwettig was nie, maar vir ons dorpsjapies was dit `n belewenis om na die dun straaltjie voggies te kyk soos dit daar in die dopemmer val. Ek dink die oom het gesê dat dit nou die naloop is. Hy het `n beker daar, `n jamblik met `n oor aan, en hy skep `n bietjie van die voggies en gee vir my om te proe. Die goed het soos vrot perskes geruik en gesmaak en ek skiet dit toe ongemerk in die gras in. Toe kry Chummie `n beurt om te proe en hy gooi syne ook weg. Pieter kyk ons met groot oë aan en hy kry toe ook `n beurt om te proe. Toe onhou ek, hy is mos dors. Hy drink alles op.
Net daarna roep die tante ons om te kom eet want dit was al sterk skemer. In die kombuis staan daar toe `n reuse tafel klaar gedek vir ons. Die kos was al klaar opgeskep – soos my ma sou gesê het, boerekos – rys, vleis, aartappels en pampoen. In die geval was dit egter mieliegruis instede van rys, lekker kos! Die oom sit aan die kop van die tafel, die tannie aan sy regterkant, hulle seun aan sy linkerkant, ek sit langs die seun met Pieter oorkant my en Chummie op die onderent van die tafel.
Die oom lees toe eers `n paar verse uit die Bybel en toe doen hy `n gebed. Hy begin by die koningin van Engeland wat toe onlangs die troon bestyg het. En die oom kan bid! So onder die gebed dag ek ek hoor iets van Pieter se kant af kom. Ek loer toe so met my een oog en merk dat Pieter slaap en dat sy kop gevaarlik naby sy bord kos hang. Die tafel was te wyd vir my om Pieter onder die tafel raak te skop, toe skop ek maar vir Chummie en ek wys hom dat Pieter slaap. Net toe die oom amen sê, skop Chummie vir Pieter onder die tafel, maar helaas te laat! Pieter val met sy gesig in sy bord kos en toe hy, nou nugter wakker, sy kop optel, sien jy net die groot blou oë deur die pampoen! Dit was die mampoer se skuld.
Nadat ons almal heerlik gelag het, het Pieter darem kans gekry om sy gesig te gaan was. Ons het almal die mampoer blameer vir die snaaksigheit. Toe eers kon ons die nou yskoue kos geniet.
Die ou mense was vreeslik uitgehonger vir geselskap en hulle het ons bestook met vrae oor skoolgaan, atletiek, rugby, kerk en sommer alles. Ons moes hulle vertel van rolprente wat ons gesien het want vir hulle was bioskoop-toe-gaan onmoontlik. Hulle het net die een seun en blykbaar, soos die tannie ons vertel het, was daar by die geboorte van hulle eersteling `n suurstof tekort wat veroorsaak het dat sy brein nie reg onwikkel het nie. Hy kon nooit skooltoe gaan nie en hy was baie stil, het nooit einlik geleer om te praat nie. So het ons om die kombuistafel gesit en stories vertel tot laat die nag. Dit is nogal snaaks dat `n mens so gemoedelik kan raak met net die lig van die olielamp op die tafel. Die tannie het gereeld die koffieketel nader getrek vir nog `n koppie sterk koffie. Die ketel het altyd gereed gestaan op die een kant van die stoof.
Dit was al baie laat toe die tannie vir ons drie `n kermisbed in die voorhuis voor die sideboard gemaak het. Vir die wat nie weet nie, `n kermisbed is sommer so op die vloer slaap met net `n matras en baie komberse; die voorhuis noem ons vandag die sitkamer en `n sideboard is `n buffet.
Nou, op die sideboard was daar so `n lang lappie wat die oumense `n runner genoem het en op die runner was daar `n hele ry bekers en trofeë wat die oom oor die jare gewen het op plaaslike landbouskoue vir vet hoenders, mampoer, die grootste pampoen en so voorts.
Die tannie het ons `n kers en blaker gegee vir die wis en die onwis en vir Chummie in bevel van die vuurhoutjies geplaas. Toe ons einde ten laaste tot ruste kom en Chummie die kers doodblaas, val dit my op hoe stil dit daar op die plaas was. Dit is `n ander soort stilte as wat jy in die dorp ervaar. Dit is asof die stilte jou bekruip en vashou.
Skielik hoor ons `n harde krrrrr-geluid en toe slaan die groot horlosie ghong! Pieter spring op en skree “Wat de ….” En toe breek die hel los want met sy opspring gryp Pieter die runner raak en trek al die trofeë van die sideboard af wat met `n onaardse geluid ratel, val en rol en aanhou klink. Die hele huis se mense is toe wakker en van slaap was daar toe verder nie meer sprake nie.
Nadat daar houtjies in die stoof gegooi is, kon ons toe weer koffie drink en toe die son sy kop uitsteek, val ons maar in die pad terug na ons meer bekende wêreld toe.
Dankie aan die oom en tante vir die mooi herinneringe.
