Toe ek op hoërskool was, was ek lid van die kerk se JV op GG (Jongeliede vereniging op Gereformeerde Grondslag). Ons het maandeliks vergader en dan het een ‘n kort toespraak gelewer en net daarna was daar ‘n debat gevoer oor die toespraak se onderwerp.
Eenmaal het die voorsitter my gevra om vir die volgende vergadering ‘n toespraak voor te berei. Die onderwerp moes wees Aan Watter Plesier Kan ‘n Calvinistiese Jongmens deelneem.
Ek was skoon uit die veld geslaan, maar toe gaan ek na ds Douw Venter en ek vra hom om my te help. Hy sê toe dat ek eers my toespraak moes uitskryf en dit dan na hom te bring dan sou hy my met die afronding daarvan help.
Ek kies toe Prediker 12 as my uitgangspunt. En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie. (53 vertaling) Ek het toe verder daarop uitgebrei dat as jy dan aan plesier wil deelneem, jy altyd jou Skepper voor oë moes hou.
Ek vra toe vir die dominee om vir my te verduidelik Die wagters van die huis sal bewe Hy sê toe dat ou mense se hande bewe. Die sterk manne krom word. Dit is jou bene as jy oud word. Die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het. Dit is die ou mens se tande. Die wat deur die vensters kyk, verduister word. Swak oë deur hoë ouderdom. Die geruis van die meul verswak. Doofheid wat deur ouderdom veroorsaak word. Die amandelboom sal in bloei staan. Gryshare. Die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep. Die ou mens wat met moeite loop.
Toe vra ek die predikant wat beteken en verskriklike dinge sal op die pad wees. Hy sê toe dat dit seker ‘n Volkswagen moet wees!
Die Doppers glo mos dans is sonde. Ek vra ds Douw toe uit daaroor. Hy sê toe as jy met jou vrou alleen in die huis is, en jy dans met haar van agt tot twaalf die nag en jy sê jy geniet dit, dan is dit nie sonde nie.
Nou ds Douw was ‘n chain smoker en mense het gesê dat hy nog eendag met ‘n sigaret op die preekstoel gaan klim. Ek vra hom toe of rook dan nie ook sonde is nie. Hy antwoord: Yes and what about it?
