Die Telegram

My ma het ‘n vriendin gehad wat dikwels by ons kom kuier het. Ek het haar net as tannie Steffens geken. Sy was al diep in haar vyftiger jare en was ‘n weduwee vir meer as twintig jaar.

Haar getroude lewe was ‘n groot raaisel. Sy het die eerste keer getrou toe sy agtien was. Sy was op twintig reeds ‘n weduwee. Sy het daarna weer getrou en was teen die ouderdom dertig reeds vierkeer weduwee. Haar mans is almal aan ongelukke oorlede. Een het van ‘n windpomp afgeval, ‘n ander het verdrink in die steengroef gate in Burgershoop en so met ongelukke het almal aan hulle einde gekom. Sy het toe besluit om nooit weer te trou nie want sy was ‘n ongeluksvoël vir mans.

My ma het haar vertel dat die eensaamheid op haar oudag haar baie gaan pla. In die Landbou weekblad was daar die Hoekie vir Eensames. Daar het sy toe weer ‘n vriend ontmoet. Hy was in Springs woonagtig en na ‘n paar maande is hulle toe daar getroud. So het ons toe kontak met haar verloor want Springs was met destydse vervoer baie ver van Krugersdorp. Sy daag toe eendag, so ses maande na haar troue, daar by ons op. My ma het toe sommer weer lekker met haar gesels. Soos maar gebruiklik praat hulle later ook oor die kerk. Toe tannie Steffens hier in Krugersdorp was, was sy saam met my ma baie aktief in die Sustersvereniging van die Gereformeerde kerk. Haar nuwe man was ‘n lid van die AGS in Springs. Toe my ma van die kerk begin praat, raak die tannie heeltemal ontsteld. Sy sê sy wil niks weet van ons gemeente en die predikant nie want hy het haar ‘n vreeslike lelike telegram met haar troue gestuur.

My ma vra wat het dan in die telegram gestaan? Sy grawe so in haar handsak en haal die verkreulde pienk telegramkoevert uit . Die telegram was nog van die waar repies papier so op die vorm geplak was. Die bewoording was kort en kragtig. “Veelsgeluk lees Joh 4 vers 18” My ma sê toe dat ek die Bybel moet gaan haal. My ma lees toe: “want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

Geskok sê my ma dat ek die dominee moet gaan bel om alles uit te klaar. Ons het toe nie ‘n foon in die huis gehad nie en ek moes na die ‘tiekie boks’ toe loop waar ek die dominee geskakel het. Hy was sommer gou gou daar by ons huis. Nadat hy aandagtig na die telegram gekyk het, begin hy lag. Hy sê dat daar êrens ‘n fout ingesluip het en dat dit moes gelees het 1 Johannes 4 vers 18 wat lees: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite.” Juis omdat sy so bang was om weer te trou het die predikant hierdie vers gekies. Met die oorsend van die telegram het die ‘1’ verlore gegaan.