Hy kom weer!

In Johannes 20 vers 7 word ‘n hele vers gewy aan Jesus se kopdoek wat afsonderlik eenkant opgerol gelê het.  Waarom?  As ons die Joodse gebruike nie verstaan nie, het dit geen betekenis nie.

My pa is oorlede toe ek vier jaar oud was en my ma het kort daarna by Jode gaan werk as opsigter oor hulle drie werkers in die huis.  Een was die kok en tee maker, die tweede was verantwoordelik vir die was en stryk en die derde moes daardie groot huis aan die kant maak.  Dan was daar nog ‘n man wat voltyds in die tuin gewerk het en hy moes ook die karre was.  Ons het daar in hulle tuinwoonstel gebly.

Vrydagaande was die groot byeenkoms van die Rubensteins familie.  Dan was daar twaalf familie lede.  Dit was ook die begin van hulle Sabbatviering.  Dan het die oubaas Rubenstein uit sy Torah gelees en almal het saam gedreunsing voor die ete wat drie tot vier ure geduur het.  Die Torah is die eerste vyf boeke van die Bybel.  Die oubaas wou my ook altyd daar hê en ek moes eenkant stil sit.  Die ete was gewoonlik “ghafielte” fish en die wyn was Hagefen, ‘n soet wyn.  Die oubaas het altyd vir my ‘n paar druppels van daardie wyn laat proe.

Gedurende die ete was verkeerde optredes van die familie bespreek en die oortreder is dan berispe.  Soos ‘n kleindogter wat iets by Knights, ‘n Engelse winkel vir haar gaan koop het.  Die oubaas het gesê dat jy net by Joodse winkels koop en as hulle nie het wat jy wil hê nie, dan bly jy daarsonder.

Die oubaas het altyd sy gebedsdoekie of kopdoek daar gedra.  Deurdat die ete so lank geduur het, was dit soms nodig om van die tafel verskoon te word.  As die oubaas homself verskoon, het hy altyd sy gebedsdoek netjies opgevou en eenkant neer gesit.  As hy klaar met die ete was, het hy die doekie soos ‘n servet gebruik en opgefrommel in sy bord gesit.

Nou wat beteken die kopdoek eenkant netjies opgerol?  Dit beteken net een ding:
Hy kom weer.