Moet Nooit …

Moet Nooit…..

Ek loop op die lughawe Charles de Gaulle by Parys in Frankryk en dink aan die afgelope vyf wonderlike dae hier in Parys.

Nie net was die rugby en die gees op die paviljoene onbeskryflik nie – alles was ongelooflik. Ons is Wêreldkampioene!

Ek het die Eiffeltoring gesien, ek het die gees ervaar van Bok Town naby die Eiffeltoring, waar onder andere Sunette Bridges vir duisende mense in Afrikaans gesing het, ek het langs die Champs Elysees met sy wye sypaadjies geloop na die Arc de Triomphe, ek het die Notre Dame gesien, ek het die sypaadjiekafees geniet, ek het die Denkerstandbeeld in die Rodin Museum gesien, ek het die stampvol ondergrondse treine wat hulle Metro noem, beleef, ag en nog te veel om op te noem. Dit was soos ‘n droom. My eerste besoek aan die wêreldstad Parys!

Terwyl ek so loop in die groot sale van die lughawe, val my oog op ‘n bord wat lees Port “something”. My Frans laat veel te wense, maar die woord laat my dink aan my kinderjare toe ek ‘n portmanteau gehad het. Ek dink ‘n ander naam vir ‘n portmanteau is ‘n reisvalies.

Maar dit daar gelaat – die portmanteau was ‘n groot leertas waarin ek al my goed gebêre het met al my omswerwinge. Ná hoërskool, toe ek uit die huis gegaan het, het ek al my waardevolle besittings soos my bloemlesings, my skoolrapporte, my sertifikate van verdienste, my atletiekbekertjies, my medaljes en die eerste briefies wat ek van ‘n meisie gekry het, in die portmanteau gepak en in die stoorkamer gaan wegsteek.

My oorlede ma het ‘n parfuum met die naam “Evening in Paris” gebruik. Dit het in ‘n donkerblou botteltjie gekom en bo-oor die bottletjie was daar ‘n wit miniatuur Eiffeltoring so ses sentimeters hoog. Ek het twee van die torinkies ook in my portmanteau gebêre.

Ek het altyd vir my ma gesê dat ek nog eendag na die Eiffeltoring wil gaan. My ma het altyd gesê: “Dit is baie ver, dit kos baie geld, vergeet dit.” Nou loop ek hier in Parys se lughawe na die vliegtuig wat my terug na Suid-Afrika sal neem en ek het aan die Eiffeltoring geraak!

Nou wat is die moral of the story? Moet nooit vir iemand sê dat sy droom iets is wat onmoontlik is nie. Ek is nou 77 jaar oud.

Die artikel het die 9de November 2007 In Die Pos, Warmbad se koerantjie, verskyn op bl 10. J H V