As ek ‘n vors was met grote mag
Sou ek jou oorlaai met pêrels en smarag!
Luukse juwele, prag en praal,
Ewiglik sou dit jou omstraal.
Was ek ‘n koning van ‘n land
Sou ons regeer het, hand aan hand.
Al my eer sou jy ook kon deel.
Ons sou alle vredes met liefde beseël.
Was ek ‘n rykman met baie geld,
Sou jy nie meer goud as edel meld.
Oniks, saffiere, diamante en robyne
Sou jou dek op jou kleed van sy en satyne.
Was ek ‘n skilder met verf en penseel
Sou ek jou skilder in sy en fluweel.
Daarmee sou ek die grootste eer behaal
As die beste skilder wat nimmer faal.
Was ek ‘n sanger sou ek sing:
Ek sou die wêreld ‘n nuwe liedjie bring;
Ek sou sing van jou skoonheid ongeskonde,
En van jou haartjies, golwend, ongebonde.
As krygsman sou ek Napoleon se werk doen.
Net om jou eenmaal te kon soen.
Vir jou sou ek ‘n duisend Waterloo’s stry.
Ek sou besete veg en geen neerlae ly.
Maar ek is ‘n arme ellendeling
Met net my liefde as besitting.
Knielend voor jou bied ek my hart getrou,
Wat jy kan breek of wat jy kan hou.
