Daar was eendag ‘n vreeslike groot reus
En hy het ‘n groot boggel op sy neus.
Nou as hy ooit moes nies
Maak hy sommer die hele wêreld vies,
Want dit is soos ‘n groot aardbewing
Waar almal veg vir hul oorlewing.
Op ‘n dag nies hy toe so luid
Dat die noorde verander na suid.
Almal wat wil huistoe gaan
Verdwaal en gaan na die maan.
Die wêreld was toe leeg
Behalwe die reus met sy neus vol deeg.
Deeg? Waar kom dit vandaan?
Kom laat ons die petalje gadeslaan.
Die nies was toe so ontsettend,
Dit was al die tyd so verpletterend
Dat dit al die land se koring en meel
In deeg verander, kan jy jou verbeel.
Die reus was toe eensaam en alleen
En hy het sy nagte toe omgeween.
Hy besluit toe om na die maan te spring
En om al die mense terug aarde toe te bring.
Hy beloof toe ook so opreg:
“Nooit nies ek weer so sleg.”
