Baie jare gelede in 1950 het ek, pas uit matriek, in die magistraatskantoor in Krugersdorp gewerk. Destyds was die magistraat nog nie bekend as ‘n landdros nie. Ek het ‘n beurs gehad om te gaan swot as onderwyser, maar ek het gladnie belanggestel om ‘n onderwyser te word nie. Met Latyn as my beste vak op skool wou ek myself in die regte bekwaam, maar daarvan het toe ook net mooi niks geword nie. Maar dis ‘n ander storie.
My eerste werk in die magistraatskantoor was in die Geboorte, Huwelike en Sterfgevalle-afdeling, of soos ons dit destyds genoem het – hatch, match en dispatch.
Een Saterdagoggend, die magistraatskantore was toe nog op Saterdae oop tot half een toe, kom daar ‘n paartjie in, baie verlief met blink oë en sê dat hulle met spesiale lisensie wou trou. Hulle het die hele tyd net vir mekaar gekyk. Toe kon jy nog trou sonder om vooraf ‘n afspraak te maak. Ek kan onthou dit was vroeg in die lente en die Saterdag se sluitingstyd het nader gekruip.
Ek vertel toe die paartjie dat ek eers by die assistant magistraat, mnr Le Roux, moes uitklaar of hy nog die huwelik so naby aan huistoegaantyd sou kon voltrek. Groot asseblief smeek die man aan die anderkant van my lessenaar. Ek gaan praat toe mooi met die magistraat en hy sê dat ek die vorms solank moes voltooi. Terug in my kantoor begin ek toe haastig die nodige vorms invul en soos my gewoonte was, vra ek al die vrae vir die man. Toe ek hom vra wat is sy aanstaande se volle name, vra hy haar: “Wat is jou naam?” Sy antwoord en ek kan onthou dat haar eerste naam ‘n mansnaam soos Johannes of Jacobus was.
Mnr Le Roux kom toe haastig in en hy voltrek die huwelik baie vinnig. Na die verrigtinge vra die man dat ek hulle huweliksertifikaat vir hulle moes gee. Ek antwoord toe dat dit onmoontlik sal wees want mnr Le Roux moes die sertifikaat onderteken en hy was toe reeds oppad huistoe. Ek sê toe dat ek Maandagoggend eerste ding hulle sertifikaat sal uitskryf en vir mnr Le Roux neem om dit te onderteken. Baie teleurgesteld is hulle toe daar weg.
Daardie tyd, as jy in die Staatsdiens gewerk het en die tyd breek aan dat jy moet ophou werk, het jy werklik ophou werk. As jy nog in die middel van ‘n woord is besig om te skryf, hou jy net dadelik op met skryf, sit jou pen neer en gaan huistoe.
Die hele naweek het die episode my gepla. Hoekom het hulle so laat daar aangekom? Waar was hulle vriende en familie? Hulle was ook te voet, maar dit was nie baie snaaks nie want min jong mense het destyds motors besit. Nogtans het ek baie oor die paartjie gedink.
Maandagoggend nog voor agt toe ek kantoor toe gaan, sien ek die paartjie daar voor die hofgebou staan en rondtrippel. Skaars is ek in my kantoor of hulle sit oorkant my wagtende vir hulle trousertifikaat. Toe vertel hulle my hulle storie.
Die Saterdagoggend haal hulle albei die trein van Pretoria na Johannesburg. Soos dit beskik was, sit hulle toe as totale vreemdelinge regoor mekaar in die trein na Parkstasie waar hulle moes oorklim om ‘n trein te haal na Krugersdorp toe. En so sit hulle sonder om ‘n enkele woord te praat tot in Johannesburg. Soos die geluk dit wou hê, klim hulle toe in dieselfde trein na Krugersdorp en so wraggies sit hulle toe weer regoor mekaar. Hy begin toe voetjie-voetjie met haar speel en vanaf Florida begin hulle toe met mekaar te gesels. Hulle het nie eens geweet dat hulle albei oppad Krugersdorp-Wes toe was nie. Vanaf Krugersdorp stasie moes hulle ‘n hele ent stap na die bushalte waar hulle ‘n bus sou kon haal na Krugersdorp-Wes. Die bushalte was destyds voor die hofgebou net oorkant die stadsaal. En so met die loop en gesels word hulle toe sommer groot vriende. Soos hulle dit gestel het – hulle ontdek dat hulle sielsgenote is.
Toe hulle by die magistraatskantoor verby loop, sê hy vir haar: “Kom ons gaan hier in dan trou ons.” Sy sê toe dadelik ja en so het die storie toe begin. Hulle was albei vrygeselle van vyf en twintig jaar. Hulle was albei nou nie so mooi soos filmsterre nie, maar hulle het sterre in die oë gehad.
Na hulle huweliksbevestiging is hulle na die Palace Tearoom oorkant die straat waar hulle elkeen een van daai rooi klapperkoeke bestel het saam met ‘n melkskommel. Hulle ontdek toe dat hulle dieselfde voorliefde vir dié rooikoeke en melkskommels het.
Nadat hulle hul trousertifikaat gekry het, is hulle al dansende daar uit my kantoor uit. Hulle het my nooit vertel wat hulle vir hulle verskillende mense daar in Krugersdorp-Wes verduidelik het nie. Toe ek die verhaal aan mnr Le Roux vertel, sê hy dat hy dit snaaks gevind het dat die paartjie so wou trou. Hy sê hy dog dit was ‘n geval van ‘n “rush tussen hom en die stork” wat toe gladnie die geval was nie.
Die eienaardige voorval het lank by my gespook. Toe so vier jaar later het ek gehelp met die sensusopname. En daar kom ek op ‘n huisgesin af wat vir my baie bekend voorkom. Te skaam om sommer reguit vir hulle te vra of hulle die paartjie was wat so vinnig besluit het om te trou, probeer ek toe uitvis. Gelukkig vra die man toe vir my of ek hulle kan onthou. Ek sê toe dat hulle vir my bekend voorgekom het. Hulle vertel my toe hoe uiters gelukkig hulle is en dat hulle al twee kindertjies het. Hulle dring toe daarop aan dat ek eers by hulle moes koffie drink.
Die vrou verdwyn toe kombuistoe en toe sy terugkom met die skinkbord en die koffie, is daar net een koppie koffie en ‘n groot beker vol koffie. Toe sy die skinkbord my aanbied, neem ek toe die koppie. Sy gaan sit toe so dwars op haar man se skoot en daar drink hulle toe uit dieselfde beker. Eers vat sy ‘n slukkie en dan vat hy ‘n slukkie. Hulle sê toe dat hulle albei van sterk soet koffie hou en aangesien die Here hulle een gemaak het, drink hulle so saam uit een beker.
Hy vertel my dat hulle eintlik hulle heil oorsee wou gaan soek. Waar oorsee het hy nooit gesê nie. Ongelukkig het ek hulle name vergeet, maar as hulle nog in die land van die lewendes hier is RSA is, moet hulle van hulle laat hoor.