Via Dolorosa

(Lydingsweg)

Totius het in sy gedig Waar is ‘n lot…  die lyding wat hy ondergaan het toe sy dogter deur die weerlig getref was en sy dood in sy arms geval het beskryf.  Hy beskryf hoe hy ‘n vrou ontmoet het wat haar man moes begrawe en dat sy self haar man se doodskis moes toespyker.  Dan noem hy dit dat haar lyding erger as syne was, maar sy wys hom op Jesus se kruisiging en sê dat sy nooit soos Hy, van God verlate was nie.  Dan sê Totius dat Jesus se lot die swaarste was.

Kom ons kyk na die lyding van mense.  Is dit die lot van die mens om te ly? Moet daar altyd pyn en lyding wees?  Wat sê God se Woord oor lyding?

Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Genesis 3 vers 16.

…. is deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak. Genesis 3 vers 17b

Lyding put jou kragte uit, dit mag jou dalk finansieël knak.

Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Markus 5 vers 25.

Hoeveel jare moes die Israeliete soos nomade in die woestyn rondswerf voordat hulle die beloofde land van melk en heuning kon binnegaan?  En vir arme Moses was dit nie eens gegun gewees om die land binne te gaan nie.

Ag, hoe skud my hart en bewe;

Uitgelewe is my krag, en opgeteer.

Oë gans en al ontluister,

Skemerduister, sien geen daglig amper meer. Psalm 38 vers 9.

Dink so daaraan: vir eeue lê die fyn goudstof in ‘n rots opgesluit.  Dan word daardie rots gedelf, word stukkend gebreek en tot ‘n fyn poeier gemaal.  Dan word dit aan die allerverskriklikste giftige sure blootgestel en daarna word dit teen ‘n geweldige hoë temperatuur gesmelt.  Eers dan kan jy die gelouterde goud sien, maar dit is nog nie alles verby nie.  Die ruwe goud word dan aan die vlam van die goudsmit blootgestel voordat dit as die pragtige edel metaal juweelstukke geniet en bewonder kan word.  Vergelyk dit met jou lewe.

Tog sal die Almagtige God ‘n mens nie bo sy vermoë beproef nie.

Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou.  1 Petrus 3 vers 13b.

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.  1 Petrus 5 vers 10.

Maar die Heer sal in my lewe weer oordag sy guns gebied.  Ook deur donker nag omgewe, sing ek nog my pelgrimslied.  Ja, ek lofsing in die nag, want ek bly die Heer verwag; my gebed sal opwaarts strewe na die bronwel van my lewe. Psalm 42 vers 5.

Wat is nou ons grootste troos as ons hier in ons tydelike tentwoning so moet ly?

Ek is oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Romeine 8 vers 18.